NASIONALE PROJEKTE
Handleiding met betrekking tot strafregtelike aangeleenthede
Talle gevalle is in die verlede aan Agri SA uitgewys waar boere sonder goeie ondersoekwerk en weens vals verklarings wederregtelik inhegtenis geneem is. Om boere bewus te maak van hulle regte en breër riglyne daar te stel oor hoe om tydens ’n arrestasie te handel, het die Trustfonds geld bewillig om ‘n handleiding saam te stel wat deur middel van die Agri verspreidingsnetwerk aan boere versprei is.
Evaluering van die Landelike
Beveiligingsplan
![]() |
Die Landelike Beveiligingsplan is ontwikkel om alle rolspelers by landelike veiligheid aan te moedig om op ´n gekoördineerde wyse saam te werk en betrokke te raak by gemeenskaplike beplanning, aksies en die monitering van misdaad in die landelike gebiede. Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het navorsing gedoen om vas te stel hoe doeltreffend die Landelike Beveiligingsplan is en om beter begrip vir die aard van misdaad op plase en kleinhoewes te verkry. |
Profielondersoek van veroordeelde misdadigers
Technikon RSA het vroeër ondersoek
ingestel na die profiel van ´n misdadiger wat by plaasaanvalle betrokke is en reeds gevonnis is.
Die span het 48 veroordeelde misdadigers in gevangenisse besoek. Hulle
is uitgevra na hul motiewe waarom hulle by aanvalle betrokke geraak het
en hoekom slagoffers met soveel geweld vermoor is, nadat die misdadiger reeds in sy
doelwit geslaag het. Die ondersoek is gedurende 2001 afgehandel.
Aksie Stop Plaasaanvalle
’n Landswye petisie-aksie wat die regering oproep tot daadwerklike
optrede om plaasaanvalle te stop, is op 31 Mei 2000 geloods. Die
uiteindelike oogmerk van die petisieveldtog is om plaasaanvalle te
bekamp en te verhoed met die klem op die mobilisering van die
publiek van Suid-Afrika. Voorts is die doel ook om maksimum druk binnelands en
buitelands te genereer, sodat die regering ’n meer daadwerklike poging sal
aanwend en middele daar sal stel om plaasaanvalle te voorkom. ’n Verdere
belangrike oogmerk was om die landelike gemeenskap - veral plaasmense - opnuut op te skerp tot paraatheid.
Ondersoek na die strafregstelsel
Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het op versoek van Agri SA ‘n
ondersoek van stapel geloods namens die Nasionale Wet-en-Orde Komitee om die leemtes in
die strafregstelsel te bepaal en vas te stel hoekom bestaande strawwe
nie ´n afskrikmiddel vir plaasaanvallers is nie. Die doel hiervan is ook
om misdaadtendense en demografiese inligting te ontleed, sodat
toekomstige brandpunte bepaal kan word ten einde pro-aktief te kan optree.
Daar is ook die ondersoek ingestel na die toepassing
van die doodstraf vir sekere geweldsmisdade.
SAPD Veiligheidsbrosjure
![]() |
|
Opleiding in gevegsaanduidings
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het landswyd opleidingseminare
- gefasiliteer deur Lukas Swart - aangebied om die boeregemeenskap toe te rus met relevante
informasie om plaasaanvalle te antisipeer en te hanteer.
Gevegsaanduidings is die riglyne wat kriminele volg om hul taak uit te
voer. By plaasaanvalle was die gevegsaanduidings vooraf sigbaar. Dit
beteken dat, as ‘n persoon toe reeds hierdie inligting gehad het, sou
baie van die plaasaanvalle voorkom kon gewees het. Die Trustfonds het ‘n
finansiële bydrae tot die opleidingseminare gemaak, wat beteken dat die
inligting en kennis wat oorgedra word, kan help om verskeie plaasaanvalle
te voorkom.
Gedenknaald ter nagedagtenis
aan boere wat tydens plaasaanvalle vermoor is
|
![]() |
Finansiering van georganiseerde landbou se veiligheidskomitees
Die doeltreffende landswye koordinering van veiligheid en die landswye implementering en bestuur van die Landelike Beveiligingsplan waarvan Agri SA deel is - gesien teen die agtergrond van die onaanvaarbaar hoë vlakke van plaasaanvalle - vereis insette en deelname van alle verteenwoordigers uit die nege provinsies. Al die rolspelers binne die groter Agri SA-familie behoort saam te beplan en te koördineer om ‘n verskil te maak aan die veiligheidsituasie op plase. Die Trustfonds het hierdie doelwit ondersteun deur ´n bydrae te maak tot Agri SA se Nasionale- en nege Provinsiale Veiligheidskomitees om hulle in staat te stel om effektief hulle funksies en rol binne die Landelike Beveiligingsplan te vervul.
Traumawerkswinkels
Reformanda Beradingsdiens, gesetel in Potchefstroom, het ‘n program
ontwikkel met die doel om hulp aan slagoffers van plaasaanvalle te bied
in die vorm van trauma-berading. Die berading is daarop gefokus om die
slagoffer te help om die trauma wat met ‘n plaasaanval gepaardgaan te
hanteer en te verwerk. Die program konsentreer ook daarop om
persone op te lei om ander slagoffers in die gemeenskap by te staan. Die
opleiding word verder ook gebruik om predikante, maatskaplike werkers en
polisiebeamptes op te lei wat gewoonlik eerste kontak met die
slagoffers het, sodat onmiddellik met berading begin kan word. Die Trustfonds
het ‘n bydrae gemaak tot die koste van die werkswinkels om dit vir die
Universiteit moontlik te maak om met die werk voort te gaan.
