|
Die landbousektor is 'n uiters waardevolle sektor in
Suid-Afrika se ekonomie en onmisbaar ten opsigte van sy bydrae tot
sosiale welvaart, vrede en nasionale stabiliteit.
Die hoë misdaadvlakke in die landelike gebiede, maar veral die voortslepende
plaasaanvalle- en moorde op
boere, plaaswerkers en hulle gesinne, lê die stabiliserende rol wat
landbou in die landelike gebied speel, ernstig aan bande. Die
beveiliging van die landbougemeenskap bly steeds een van die hoogste
prioriteite binne Agri SA. Die Trustfonds poog om aanvullende bydraes te
maak tot die verbetering van die landbougemeenskap se veiligheid, sodat
die sektor in groter veiligheid kan voortgaan om voedsel en vesel vir
die land se bevolking te produseer.
Met die instelling van die Trustfonds het voormalige
President Nelson Mandela sy ondersteuning daaraan gegee en die Trustfonds
geniet ook die huidige President se ondersteuning. Die Trustfonds word
deur 'n span kundige landbou-, sake- en openbare leiers bestuur wat die
verantwoordelikheid aanvaar om die Trust se finansies te bestuur en
projekte wat in aanmerking vir finansiering kom te oorweeg.
Doelstelling van die
Trustfonds
Die oorhoofse doelstelling van die Agri Securitas Trustfonds is om
'n bydra tot die beveiliging van die landelike gebied te lewer en die
bevordering van die landbougemeenskap se paraatheid deur:
-
Die finansiering van goedgekeurde projekte wat op
grondvlak geïnisieer word in belang van die betrokke gemeenskap
waardeur sodanige gemeenskap se eie veiligheid kan verbeter;
-
Die beskikbaarstelling van inligting waardeur eie
paraatheid en huis- en haard beskerming bevorder kan word;
-
Bydraes te maak tot goedgekeurde trustfondse wat
daargestel is om na die finansiële behoeftes van kinders
wat wees gelaat is na 'n plaasaanval om te sien.
Belangrikheid van
landbou in SA en Afrika
Suid-Afrika beslaan nagenoeg 3.8% van die oppervlakte
van Afrika en slegs 14% van die totale oppervlakte van Suid-Afrika is
bewerkbare landbougrond. Nieteenstaande die beperkte oppervlakte
bewerkbare landbougrond produseer die Suid-Afrikaanse boer 25% van
mielies en 13% van die koring wat in Afrika geproduseer word. In die
Suider-Afrikaanse Ontwikkelings Gemeenskap (SAOG)-streek produseer Suid-Afrika 58% van die mielies en 87% van die
koring.
Die totale graanproduksie van Suid-Afrika
verteenwoordig nagenoeg 61,2% van die produksie in Suider-Afrika en die
totale rooi- en witvleisproduksie in Suid-Afrika verteenwoordig nagenoeg
66.6% van die produksie in Suider-Afrika. Verder is Suid-Afrika ook die
voorste produseerder van suiker, melk en vars vrugte in Suider-Afrika.
In die
totale prentjie van landbouproduksie in die wêreld en in Afrika is
Suid-Afrika 'n uitsondering by uitnemendheid.
Nieteenstaande die veiligheidsbedreiging wat die Suid-Afrikaanse boer
daagliks in die gesig staar, beny die ganse Afrika, asook die res van die
wêreld die Suid-Afrikaanse boer sy kundigheid op landbougebied wat
steeds sorg dat daar nie 'n tekort
aan voedsel bestaan in ons land, en in vele buurstate nie.
Kontakbesonderhede:
Kobus Visser
| Posbus 1508 Pretoria
0001 |
|
Telefoon
: +27 (0) 12 643 3400 Faks
: +27 (0) 12 663 3178 |
|
Trust se registrasienommer: 6461/01

Die Trustfonds se vennote
Erkenning word aan die volgende maatskappye gegee vir
hulle maandelikse finansiële bydraes tot die trustfonds:
klik logo's vir meer :

Aktiwiteite

PROJEKTE GEFINANSIER DEUR DIE
TRUSTFONDS:
NASIONALE PROJEKTE
HANDLEIDING MET
BETREKKING TOT STRAFREGTELIKE AANGELEENTHEDE
Talle gevalle is in die
verlede aan Agri SA uitgewys waar boere sonder goeie ondersoekwerk en
weens vals verklarings wederregtelik inhegtenis geneem is. Om boere
bewus te maak van hulle regte en breër riglyne daar te stel oor hoe om
tydens ’n arrestasie te handel, het die Trustfonds geld bewillig om ‘n
handleiding saam te stel wat deur middel van die Agri
verspreidingsnetwerk aan boere versprei is.
Evaluering van die Landelike
Beveiligingsplan
 |
Die Landelike Beveiligingsplan
is ontwikkel om alle rolspelers by landelike veiligheid aan te
moedig om op ´n gekoördineerde wyse saam te werk en betrokke te raak
by gemeenskaplike beplanning, aksies en die monitering van misdaad
in die landelike gebiede. Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS)
het navorsing gedoen om vas te stel hoe doeltreffend die Landelike
Beveiligingsplan is en om beter begrip vir die aard van misdaad op
plase en kleinhoewes te verkry. |
| |
|
Profielondersoek van
veroordeelde misdadigers
Technikon RSA het vroeër ondersoek
ingestel na die profiel van ´n misdadiger wat by plaasaanvalle betrokke is en reeds gevonnis is.
Die span het 48 veroordeelde misdadigers in gevangenisse besoek. Hulle
is uitgevra na hul motiewe waarom hulle by aanvalle betrokke geraak het
en hoekom slagoffers met soveel geweld vermoor is, nadat die misdadiger reeds in sy
doelwit geslaag het. Die ondersoek is gedurende 2001 afgehandel.
Aksie Stop Plaasaanvalle
’n Landswye petisie-aksie wat die regering oproep tot daadwerklike
optrede om plaasaanvalle te stop, is op 31 Mei 2000 geloods. Die
uiteindelike oogmerk van die petisieveldtog is om plaasaanvalle te
bekamp en te verhoed met die klem op die mobilisering van die
publiek van Suid-Afrika. Voorts is die doel ook om maksimum druk binnelands en
buitelands te genereer, sodat die regering ’n meer daadwerklike poging sal
aanwend en middele daar sal stel om plaasaanvalle te voorkom. ’n Verdere
belangrike oogmerk was om die landelike gemeenskap - veral plaasmense - opnuut op te skerp tot paraatheid.
Ondersoek na die strafregstelsel
Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het op versoek van Agri SA ‘n
ondersoek van stapel geloods namens die Nasionale Wet-en-Orde Komitee om die leemtes in
die strafregstelsel te bepaal en vas te stel hoekom bestaande strawwe
nie ´n afskrikmiddel vir plaasaanvallers is nie. Die doel hiervan is ook
om misdaadtendense en demografiese inligting te ontleed, sodat
toekomstige brandpunte bepaal kan word ten einde pro-aktief te kan optree.
Daar is ook die ondersoek ingestel na die toepassing
van die doodstraf vir sekere geweldsmisdade.
SAPD Veiligheidsbrosjure
 |
|
As deel van die NOKOK se
kommunikasie-strategie oor die Landelike Beveiligingsplan en die
bevordering van landelike veiligheid het die Suid-Afrikaanse
Polisiediens (SAPD) ‘n
veiligheidsbrosjure saamgestel wat landswyd aan boere versprei
word. Die brosjures bevat kerngedagtes oor landelike veiligheid
en word in Afrikaans, Engels en verskeie swart tale
beskikbaar gestel. |
|
|
Opleiding in gevegsaanduidings
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het landswyd opleidingseminare
- gefasiliteer deur Lukas Swart - aangebied om die boeregemeenskap toe te rus met relevante
informasie om plaasaanvalle te antisipeer en te hanteer.
Gevegsaanduidings is die riglyne wat kriminele volg om hul taak uit te
voer. By plaasaanvalle was die gevegsaanduidings vooraf sigbaar. Dit
beteken dat, as ‘n persoon toe reeds hierdie inligting gehad het, sou
baie van die plaasaanvalle voorkom kon gewees het. Die Trustfonds het ‘n
finansiële bydrae tot die opleidingseminare gemaak, wat beteken dat die
inligting en kennis wat oorgedra word, kan help om verskeie plaasaanvalle
te voorkom.
Gedenknaald ter nagedagtenis
aan boere wat tydens plaasaanvalle vermoor is
|
’n Gedenknaald ter
nagedagtenis aan boere, en hulle gesinne wat tydens
plaasaanvalle vermoor is, is op die Graan SA
Oesplaas-terrein, buite Bothaville opgerig. Die gedenknaald bestaan uit
nege suile wat elk van die nege provinsies van Suid-Afrika
uitbeeld. Die name van afgestorwenes in elke provinsie word op
die betrokke provinsie se suil aangebring. Die gedenknaald
is die enigste van sy soort en is ’n unieke manier waarop hulde
aan afgestorwe boere en hulle gesinne gebring kan word. Die
Trustfonds het ’n bydrae tot die oprigting van die
bronsbeeld by die gedenknaald gemaak.
|
|
|
 |
Finansiering van georganiseerde landbou se veiligheidskomitees
Die doeltreffende landswye
koordinering van veiligheid en die landswye implementering en bestuur
van die Landelike Beveiligingsplan waarvan Agri SA deel is - gesien teen die agtergrond van die
onaanvaarbaar hoë vlakke van
plaasaanvalle - vereis insette en deelname van alle verteenwoordigers uit
die nege provinsies. Al die rolspelers binne die groter Agri SA-familie behoort saam te beplan en te koördineer om ‘n verskil te maak
aan die veiligheidsituasie op plase. Die Trustfonds het hierdie doelwit
ondersteun deur ´n bydrae te maak tot Agri SA se Nasionale- en nege
Provinsiale Veiligheidskomitees om hulle in staat te stel om
effektief hulle funksies en rol binne die Landelike Beveiligingsplan te
vervul.
Traumawerkswinkels
Reformanda Beradingsdiens, gesetel in Potchefstroom, het ‘n program
ontwikkel met die doel om hulp aan slagoffers van plaasaanvalle te bied
in die vorm van trauma-berading. Die berading is daarop gefokus om die
slagoffer te help om die trauma wat met ‘n plaasaanval gepaardgaan te
hanteer en te verwerk. Die program konsentreer ook daarop om
persone op te lei om ander slagoffers in die gemeenskap by te staan. Die
opleiding word verder ook gebruik om predikante, maatskaplike werkers en
polisiebeamptes op te lei wat gewoonlik eerste kontak met die
slagoffers het, sodat onmiddellik met berading begin kan word. Die Trustfonds
het ‘n bydrae gemaak tot die koste van die werkswinkels om dit vir die
Universiteit moontlik te maak om met die werk voort te gaan.

PROVINSIALE PROJEKTE
KWAZULU-NATAL
KZ261 BEHEERSENTRUM
Na verskeie plaasaanvalle in die Paulpietersburg
gebied, is die KZ261 Beheersentrum ontwikkel wat ‘n 24-uur
telefoniese/radio operasionele sentrum is en voltyds beman word. Die
veiligheid van die gemeenskap is vir hulle van groot belang en die
dienste van die Beheersentrum is uitgebrei om ook die dorpsgemeenskap en
swart opkomende boere met ‘n SMS-stelsel te bedien om misdaad te help
voorkom. Die Fonds het ‘n bydrae gemaak tot die aankoop en installering
van toerusting in die sentrum om ‘n meer effektiewe diens aan die
gemeenskap te bied.
SWARTBERG VEEDIEFSTAL
VOORKOMINGSVERENIGING
Die
Swartberg Veediefstal Voorkomingsvereniging (SVVV) is in 1995 in die
lewe geroep in ‘n poging om veediefstal te beheer aangesien dit ‘n
bedreiging ingehou het vir die voortbestaan van verskeie veeboere. Die
primêre verantwoordelikheid van die SVVV is om die Lesotho grensgebied
te patrolleer en vas te stel of enige vee die grens na Lesotho
oorgesteek het. Indien wel, word ‘n opvolgoperasie onderneem om die vee
terug te kry. Die SVVV het infrastruktuur ontwikkel, insluitende ‘n pad
teen die grens, grensheinings opgerig, wagposte ensovoorts.
Ter aansluiting by die
bestaande patrollering van die grens is ‘n radionetwerk gevestig om
kommunikasie tussen die boere, SAPD en Lesotho burgers te
bewerkstellig. Die doel met die netwerk is dat Lesotho burgers
gesteelde vee onmiddellik sal rapporteer. In die Rhodes area is
dieselfde stelsel in bedryf gestel wat die verlies van vee weens
veediefstal tot nul te staan gebring het oor die afgelope 5 jaar. Die
SVVV het reeds verskeie radio’s met hulle eie fondse gefinansier en help
sodoende ook ‘n naby geleë swart gemeenskap om hulle gesteelde vee terug
te vind. Die SVVV het hulle netwerk uitgebrei om wyer dekking te bied
en die Trustfonds het ‘n bydrae gemaak tot die aankoop van radio’s.
Kwanalu: Veiligheidslessenaar
Kwanalu, ‘n affiliasie van Agri SA, het gedurende Mei 1998 ‘n
veiligheidslessenaar op die been gebring om onder andere te help met die
implementering en monitering van die Landelike Beveiligingsplan in
KwaZulu-Natal. Die veiligheid van die totale landelike gemeenskap bly
een van die prioriteite van Kwanalu en word daar omgesien na die behoeftes van lede sowel as
nie-lede. Die veiligheidslessenaar is verantwoordelik aan die
Raad van Direkteure van Kwanalu en funksioneer onder die bestuur van die
Uitvoerende Hoof van Kwanalu.
Radionetwerk: Nottingham Road
Die Loteni-Inzinga Boerevereniging naby Nottingham Road het deurgeloop
onder verskeie misdade soos moord, huisbraak, diefstal, veediefstal en
voertuigkapings. Die boerevereniging het ‘n polisieforum op die been
gebring wat maandeliks vergader en patrollies en padblokkades word in
samewerking met die polisie gehou.
Die grootste probleem wat deur die boerevereniging ervaar word, is swak
kommunikasie. Selfoonontvangs bestaan nie in die heuwelagtige omgewing
nie en telefone is gereeld buite werking. Die Trustfonds het ‘n bydrae tot die installering van ‘n radionetwerk
gemaak om die veiligheid van
die gemeenskap in die gebied te kan bevorder.
WES-KAAP
AANKOOP VAN KRAGOPWEKKER
‘n
Landelike beveiligingsplan is in werking in die Grabouw, Vyeboom en
Villiers dorpgebied. Die gebied sluit 192 produsente, 38 kleinhoewes en
ongeveer 20 000 plaaswerkers en hulle huisgesinne in wie se veiligheid
deur die plan geraak word. Die plan word bestuur deur die GOUKOK en die
plaaswagstelsel. Beveiligingsinisiatiewe soos inligtingspatrollies en
bewegende padblokkades word gereeld onderneem en
kommunikasievergaderings met die lede uit die gemeenskap word ook op ‘n
deurlopende basis gehou.
Die gebied is veral
kwesbaar vir misdade soos koperdraaddiefstal, diefstal van alluminium
besproeiingspype, diefstal van voertuig- en trekkerbatterye,
smokkelhandel in drank, mandrax en dagga. Gewapende rowe, veral die
roof van kontantlone kom voor. Plaasaanvalle en inbrake in woonhuise en
store is ‘n bron van kommer.
Om die
beveiligingsinisiatiewe van die landelike beveiligingsplan, soos
padblokkades te kan uitvoer, het die Trustfonds ‘n kragopwekker geskenk.
AANKOOP
VAN SKOOTREKENAARS
Die
Overberg gebied sluit meer as 1 500 plase in wat in 61 plaaswagte
verdeel is. Daar is begin om alle relevante data wat betrekking het op
die gebied en sy inwoners se veiligheid op rekenaar vas te lê en
daarvolgens plaasbesoeke te koördineer. Die data sal reaksietye in
gevalle van nood aansienlik verkort en sal ook help met die ontplooiing
van wagte op die grond. Met die hulp van rekenaars sal sateliet foto’s
en ander operasionale inligting op die rekenaars gestoor kan word.
Die skootrekenaars sal
help om die koördinering van beveiligingsaktiwiteite te vergemaklik
asook die ontplooiing van die plaaswag op die grond. Die rekenaars sal
ook gebruik word tydens opleidingsessies oor landelike beveiliging om
aanbiedinge te kan doen. ‘n Bydrae is gemaak tot die aankoop van die
rekenaars.
Finansiële bystand vir radio-kommunikasie
Die Breërivier Distrikslandbouvereniging, Worcester Kommando en die
onderskeie plaaswagte in die gebied, het die Trustfonds genader om ‘n
finansiële bydrae te maak tot die implementering van ‘n radio-stelsel
wat tot voordeel van alle rolspelers sal strek. Daar was geen
radiokommunikasie tussen die plaaswagte en die kommando gedurende
operasies van die Landelike Beveiligingsplan nie. Die kommando’s
opereer op hoë band frekwensie wat dit onmoontlik maak om met die
kommando’s te kan kommunikeer. Die Trustfonds het ‘n finansiële bydae
gemaak tot die hardeware waardeur ‘n skakel tussen die hoë- en midband
radio’s bewerkstellig sal word, wat die breë gemeenskap tot voordeel sal
strek en
veiligheidskommunikasie sal bevorder.
Swellendam Distrikslandbouvereninging: Plaaswagborde
Swellendam Distrikslandbouvereniging (DLV) het in
hul distrik tien plaaswagborde opgerig om landelike
veiligheid te bevorder. Die doel van die borde is om die gebied van ‘n
nommerstelsel te voorsien waardeur reaksietye verkort kan word. ‘n
Finansiële bydrae is gemaak vir die aankoop van die borde.
Riversdal Landelike Beveiliging: Radio's
Riversdal Landelike Beveiliging beskik oor nagenoeg 500 lede en bedien
’n oppervlakte van 3 600 vk kilometer waarin die plaaswag ’n aktiewe rol
speel deur patrollies te ry. Daar vind ook gereelde skakeling met die
SAPD en kommando’s plaas. Die Trustfonds het ’n aantal radio’s aan
Riversdal Landelike Beveiliging geskenk wat deur die plaaswag gebruik
sal word tydens optredes. Hierdie radio’s behoort die kommunikasievermoë
van die plaaswag aansienlik te verbeter en by te dra tot die effektiewe
bekamping van misdaad in die gebied.
Malmesbury: Radio-kommunikasie
Die Swartland Kommando in die Malmesbury omgewing het geen
kommunikasievermoë gehad om tydens patrollies en opvolgaksies met die
plaaslike boere asook die kommando’s en SAPD te skakel nie. Die
Trustfonds het radio’s aan die plaaswag beskikbaar gestel om sy bevel- en beheervermoë asook kommunikasie te verbeter en
effektiewe koördinering teweeg te bring.
Vredendal: Inligtingstuk oor veiligheid
’n Inligtingstuk is deur die kommando en plaaswag saamgestel om die
beginsels van landelike beveiliging in ’n enkele dokument saam te vat.
Die inligting is reeds binne die landelike beveiligingsopset beproef en
kan effektief op grondvlak toegepas word. Die volgende aspekte word
onder andere in die inligtingstuk bespreek waartoe die Trustfonds ´n bydrae
gemaak het:
- voordele van landelike beveiliging;
- beginsels van landelike beveiliging;
- plaasbeskermingsmaatreëls;
- gebeurlikheidsbeplanning; en
- gebiedsbeskerming.
Veiligheidsbrosjure
 |
|
Die Area Landelike
Beveiligingskomitee van die Wes-Kaap het ‘n veiligheidsbrosjure
saamgestel met veiligheidswenke, regsaspekte en wenke vir huis
en haard beskerming. Hierdie brosjure is deur die SA Vloot
gedruk en die koste daarvan is deur die SANW gedra. 'n Oplaag
van 4 000 kopieë van die brosjure is in die Wes-Kaap aan die landelike
gemeenskap versprei. ‘n Groot behoefte het ontstaan om ‘n
verdere 6000 van die brosjures te druk vir verspreiding in die
Wes-Kaap. Die Trustfonds het ´n finansiële bydrae gemaak tot die
druk van hierdie brosjures. |
|
|
GPS-stelsel
Agri Wes-Kaap, wat boere binne die provinsie op provinsiale
vlak en by Agri SA verteenwoordig, is deur sy grondvlakstrukture aktief betrokke by
die implementering van die Landelike Beveiligingsplan en dien ook op
provinsiale vlak in die POKOK. Agri Wes-Kaap het by die Trustfonds se Raad van
Trustees aansoek gedoen om fondse vir die aankoop van ´n Globale
Posisionerings Stelsel (GPS) wat hulle aan die kommando's in die Wes-Kaap
beskikbaar wil stel. Die idee is om alle plaaswonings se lengte- en breedtegrade vas
te stel en dit op die GPS-stelsel via rekenaar te plot. Die voordele van
´n gekarteerde gebied is dat dit reaksietye aansienlik verkort
in ´n noodgeval; die kommando presies weet waar alle bewoonde plaashuise
in sy gebied is en dit bevorder ook die beheer van gebeurlikhede soos die
monitering van alarms. Die Raad van Trustees het die stelsel gefinansier.
Swellendam: Plaaswag radio-stelsel
Die Swellendam Distrikslandbouvereniging het aansoek om fondse gedoen
vir ‘n radio-stelsel wat hulle in die plaaswag-koördineerder se voertuig
wil installeer. Die koördineerder beskik nie oor ‘n radio vir sy
voertuig om die koördineringwerk van die ses plaaswagte in die Swellendam-
en Buffelsjagriviergebied te doen nie. Die radio sal die Swellendam
Distrikslandbouvereniging se eiendom bly en sodra ‘n ander koördineerder
aangestel word, sal die radio verskuif word na die nuwe
koördineerder se voertuig.
VRYSTAAT
REDDERSBURG LANDBOU
Reddersburg is ongeveer 50km suid van Bloemfontein
geleë op die N6 roete na die Oos-Kaap. Die roete dra ook verkeer na
Sterkspruit en Lesotho wat deur verskeie plase in die distrik loop. Die
distrik se grens is sowat 60km van Lesotho en 30km van Mangaung. ‘n
Informele nedersetting teen die dorp groei steeds in getalle en
werkloosheid is aan die orde van die dag.
Verskeie veldbrande het al
by die informele nedersetting en langs die N6 roete ontstaan. Vertoë is
in die verband tot die plaaslike polisie gerig wat geen resultate
opgelewer het nie. Verskeie plaasaanvalle het die laaste paar jaar in
die gebied voorgekom sonder lewensverliese, maar verskeie persone dra
egter die letsels van die gebeure. Diefstal kom ook in die gebied voor.
Kommunikasie vind
hoofsaaklik deur telefone plaas wat deur ‘n handsentrale funksioneer en
dikwels buite werking is omdat herstelwerk daaraan nie betyds gedoen
word nie. Kommunikasie vind hoofsaaklik met selfone plaas, maar opvangs
is nie ooral beskikbaar nie weens die topografie. Kontak met die
polisie deur die telefoonstelsel is nie altyd moontlik nie, wat meebring
dat reaksietye stadig is. Die landbougemeenskap asook die dorp beskik
oor geen funksionerende Burgerlike Beskermingsorganisasie nie. Die
Trustfonds het fondse bewillig om ‘n radio-kommunikasiestelsel in bedryf
te stel vir gebruik in noodgevalle.
VERKEERDEVLEI LANDBOU
Verkeerdevlei
is geleë 70km oos van Bloemfontein teen die N1 roete vanaf
Johannesburg. Die N1 beweeg deur verskeie plase in die distrik. Die
gebied is ook geleë op die roete vanaf Welkom na ThabaNchu. In die
Verkeerdevlei distrik woon 170 plaaseienaars en hulle gesinne en ± 300
plaaswerkers. ‘n Groeiende informele nedersetting is aan die ontwikkel
in ThabaNchu en werkloosheid is aan die toeneem.
Veldbrande uit die informele nedersetting en langs
die N1 veroorsaak jaarliks groot skade in die distrik. Plaasaanvalle
het reeds ook in die gebied voorgekom. Kommunikasie geskied hoofsaaklik
deur die handsentrale stelsel wat nie baie betroubaar is nie.
Selfoonkommunikasie is beperk omdat daar nie goeie selfoondekking deur
die hele distrik is nie. Die landelike gemeenskap sukkel dikwels om
telefoniese kontak met die polisie te maak en telefone word nie vinnig
beantwoord nie, wat meebring dat reaksietye stadig is. Die Trustfonds
het fondse bewillig vir ‘n radiokommunikasie netwerk in die landelike
gebied.
HERHALERSTELSEL
- BOTHAVILLE
Die fonds het geld
bewillig aan Bothaville Distrikslandbou-unie om ‘n herhaler te finansier
vir Bothaville Veiligheidsdienste om die kommunikasie-effektiwiteit van
die gebied te verbeter. ‘n Veiligheidsplan deur die onderskeie
rolspelers, wat insluit georganiseerde landbou en die polisie, is
opgestel waarvolgens die veiligheid van die gemeenskap bedryf word. Met
die herhaler sal die kommunikasievermoë van die totale gebied verbeter
kan word.
HERHALERSTELSEL:
BETHULIE
Die
Bethulie Distriks Boere-unie, ‘n affiliasie van Vrystaat Landbou het
aansoek gedoen vir finansiële ondersteuning met die oprigting van ‘n
radioherhaler.
Die doel met die oprigting
van die radioherhaler is om die gemeenskap se kommunikasievermoë te
verbeter. Die gebied het ‘n wisselvallige topografie en is lank reeds
bekend vir sy swak kommunikasie. Dit versleg meer na die Oranje- en
Caledonrivier en het verder ook ‘n effek op selfoonontvangs in die
gebied. Die Telkom infrastruktuur is baie verouderd en die
infrastruktuur kan weens ‘n gebrek aan onderdele beswaarlik in stand
gehou word. Die radioherhalerstelsel sal hoofsaaklik aangewend word vir
kommunikasie tydens ‘n veiligheidsbedreiging, veldbrande, veediefstal en
ook vir die beheer van ongediertes.
Die SANW het reeds ‘n toring
met sonpanele aan die Boere-unie geskenk, maar beskik nie oor die fondse
om die herhalertegnologie aan te koop nie. Die stelsel sal kan inskakel
by die tegnologie wat deur die polisie gebruik word. ‘n Herhalerstelsel
is deur die Trustfonds geskenk.
HERHALERSTELSEL:
SMITHFIELD
Smithfield
Landbou, ‘n affiliasie van Vrystaat Landbou, het aansoek gedoen vir
finansiële ondersteuning met die oprigting van ‘n radioherhalerstelsel.
Die distrik het reeds ver
gevorder met die implementering van sektor-polisiëring en twee
polisiebeamptes is reeds per sektor toegedeel. Daar bestaan verder ‘n
uitstekende werksverhouding tussen die polisie en die gemeenskap.
Smithfield Landbou het reeds ‘n radio aan die polisie geskenk en dit
bevorder reeds verbeterde kommunikasie met die gemeenskap. Die
boeregemeenskap het reeds uit die fondse radio’s aangekoop om hulle
kommunikasievermoë te verbeter. Slegs gelisensieerde radio’s word
gebruik en die koste en onderhoud van die radio’s word deur Smithfield
Landbou gedra. Om die kommunikasievermoë van die gemeenskap te verbeter
het die Trustfonds ‘n herhalerstelsel geskenk wat ‘n aansienlike
verbetering teweeg sal bring aan die bestaande radiokommunikasie met
onder andere die polisie en lede van die landbougemeenskap.
SMS
VEILIGHEIDSTELSEL
Tweespruit
Boerevereniging het aansoek gedoen om finansiële ondersteuning vir die
implementering van ‘n SMS Veiligheidstelsel om plaasveiligheid te
bevorder. Twee plaasaanvalle het reeds in die gebied voorgekom, waarvan
een noodlottig was. Die stelsel is reeds gevestig en werk uitstekend in
gebiede soos Senekal. Die stelsel word geaktiveer deur ‘n SMS te stuur,
die paniekknoppie op ‘n twee-rigtingradio te druk of deur ‘n
Telkomtelefoon. Die inligting word dan deur middel van ‘n
rekenaarstelsel verder hanteer om persone wat vooraf geprogrammeer is in
kennis te stel van ‘n spesifieke veiligheidsprobleem, wat dan kan
reageer om bystand te verleen. Die Trustfonds het ‘n finansiële bydrae
gemaak tot die implementering van die stelsel.
HULP AAN WEESKINDERS
Drie kinders is wees gelaat
nadat hulle ouers in ‘n plaasaanval in Ceres, 11 jaar gelede, vermoor
is. ‘n Versoek om finansiële ondersteuning, is van Senekal Landbou
ontvang en hoofsaaklik die volgende behoeftes identifiseer:
Die versoek is ook tydens
Vrystaat Landbou se Wet- en Ordekomitee vergadering hanteer en is die
Raad versoek om oorweging te gee om finansiële bystand te verleen met
die sielkundige berading van die kinders. Die Trustfonds het besluit om
indien daar ‘n behoefte aan sielkundige behandeling is, die Trustfonds
daarvoor sal betaal.
Reitz: Riemland Beheer
Plaasveiligheid bly een van Riemland Beheer se grootste prioriteite. Met die tegnologie wat reeds by die sentrum tot stand gebring is, is die
sentrum goed geposisioneer om ‘n daadwerklike bydrae te lewer om
verskillende dissiplines te aktiveer wanneer ‘n insident plaasvind.
Ten einde die omvang van aktiwiteite te kan akkommodeer, moes die sentrum
in rekenaar- en radio-toerusting belê. Reaksie op noodoproepe kan vergemaklik en
bespoedig word as alle lede by Riemland Beheer registreer ten einde die
databasis op rekenaar op datum te hou. Riemland Beheersentrum is die
CCC-sentrum vir die totale Oos-Vrystaat wat optrede deur die
Verkeersdepartement, SAPD, Brandweer en Nooddienste koördineer vir enige
gebeurlikheid waar die dienste benodig word. Alle betrokkenes wie se hulp
op ‘n ongelukstoneel of dreigende ramptonele, insluitend plaasaanvalle
in die Oos-Vrystaat, benodig word, word nou van Riemland Beheer in Reitz
ontplooi en gekoördineer. Met die uitbou van die beheerkamer by
Vrystaat Koöperasie, kan nooddienste en hulp binne drie minute na ‘n
toneel gestuur word. Die Trustfonds het ‘n bydrae gemaak tot die
finansiering van die rekenaar- en radio-toerusting wat benodig is.
Beheersentrums: Senekal en Zastron
Beide die distrikte het beheersentrums binne
veiligheidsverenigingsverband in elke distrik op die been gebring. Die
beheersentrums sal verantwoordelik wees om die Landelike
Beveiligingsplan
binne die betrokke distrik te dryf en te monitor. Die plan sluit die
koordinering van alle veiligheidsverwante aspekte soos persoonlike paraatheid, huis- en
haard beskerming en fisiese beveiliging in. Die
veiligheidsplan is vir elke betrokke distrik ontwikkel en gesamentlik
onderteken deur die SANW, SAPD en georganiseerde landbou. Elke boer wat
by die veiligheidsvereniging aansluit, word op die plaas besoek, die
inhoud van ´n veiligheidsbundel met wenke word volledig toegelig, ´n
evaluasie van die woning word gedoen om te bepaal of dit aan die minimum sekerheidsvereistes voldoen
en praktiese aksies en aanbevelings word aan die boer gedoen.
Opvolgbesoeke word deurentyd beplan waartydens elke boer se eie
verbeterings deurlopend deur die Weermag geëvalueer word.Die fondse wat deur die Trustfonds
goedgekeur is, word hoofsaaklik aangewend vir die volgende: oprigting van ´n herhaler en versterker; oprigting van antennas;
opgradering van sagteware en konsole radio's.
Bethlehem: Landelike Beheersentrum
Die sentrum is op 23 Maart 1998 bekendgestel en word tans met ledegeld-
inkomste gefinansier. Hierdie sentrum werk nou saam met die SAPD en plaaslike kommando’s vir
vinnige optrede in enige gebeurlikheid. Die SAPD het selfs lede afgedeel na die sentrum vir
enige voorval. Die sentrum bied die volgende dienste aan boere en lede:
-
Bedien die NEAR radio-netwerk in
die gebied.
-
Monitor die nasionale roepkanaal
asook die 29-MHZ-Brug-B radio.
-
Monitor telefoon noodnommers vir
moontlike optrede.
-
Stoor lede-inligting op rekenaar
vir vinnige reaksie.
Die mees effekiewe wyse om die kommunikasie probleem in die gebied te
oorkom, is om ‘n herleistasie op te rig wat die nodige verbinding teen ‘n
bekostigbare prys aan die boer sal bied. Lede van die SAPD en die
kommando besoek boere, plaaswerkers asook
plaasskole gereeld vanuit hierdie sentrum. Die Trustfonds het ‘n bydrae gemaak tot die
finansiering van die herhaler om kommunikasie te verbeter.
Frankfort Landbou: Noodfonds
Tydens ‘n plaasaanval op 22 Junie 2001 in die Frankfort-distrik, is mnr
Ben du Plessis vyf keer geskiet en later in ‘n
ernstige toestand in die intensiewe sorgeenheid van die Hoogland Kliniek in
Bethlehem opgeneem. Hy is oor ‘n periode van twee dae
gestabiliseer. Frankfort Landbou het ‘n noodfonds by ABSA Bank
in Frankfort gestig om fondse in te samel om voorsiening te maak vir mnr
Du Plessis se mediese uitgawes, aangesien sy toestand in die stadium
glad nie bevredigend was nie. Die boerevereniging het ‘n bydrae gevra om
sy mediese uitgawes gedurende dié tyd te dek. Die
Trustfonds het ‘n finansiële bydrae tot die noodfonds gemaak. Weens
finansiële probleme het sy bestaande mediese fonds verval, aangesien hy nie
die premies kon betaal nie en dus oor geen mediese dekking beskik het om
die mediese uitgawes te betaal nie. Dit het daartoe gelei dat hy uit die
intensiewe sorgeenheid ontslaan is en oorgeplaas is na die Riemland Kliniek
op Frankfort. Mnr Du Plessis en sy drie seuns is almal lede van
georganiseerde landbou.
Noodrapporteersentrum bevorder paraatheid
 |
Die noodrapporteersentrum in
Kroonstad stel dit ten doel om ‘n totale streeknoodplan daar te stel
met ‘n onderbou bestaande uit alle noodplanne binne die streek.
Verder poog die sentrum om die totale gemeenskap, privaatsektor en
owerhede te betrek om sodoende ‘n parate gemeenskap daar te stel
deur gebruik te maak van die fasiliteite by die
noodrapporteersentrum. |
Die hele gebied word deur sel- en telefone bedien. Deur gebruik te
maak van die spoedskakel-fasiliteit (speed dial) en paniekskakelaar op
landlyntelefone, kan die kliënt deur slegs een knoppie te druk kontak met
die sentrum maak. Alle persoonlike besonderhede word op ‘n rekenaar
vasgelê. Die kliënt identifiseer ook self alle rolspelers en belangegroepe
wat hom tydens nood moet bystaan. Die SAPD en SANW vorm ‘n integrale
deel van die sentrum se aktiwiteite. Die fondse wat die Trustfonds
bewillig het, sal aangewend word om toerusting aan te koop om die
effektiwiteit van die sentrum te bevorder.
Fondse vir Senekal: Veiligheidsbeheerkamer
Agri Securitas Trustfonds het 'n tjek ten bedrae
van R35 232.84 aan Senekal Landbou oorhandig. Die fondse sal
aangewend word om die beheerkamer op 'n effektiewe wyse te
bedryf. Senekal Landbou Veiligheidsvereniging is sowat twee jaar
terug gestig en het tans sowat 80 lede. Veral
veiligheidsituasies in en om die huis word gereeld gemonitor en
aangespreek. Om lid te word, skakel die sekretaris van die
veiligheidsvereniging, Tinus Oosthuizen by 083 453 9324.
Verskeie bekostigbare lidmaatskap opsies is beskikbaar. Dirk
Bothma van RTS Senekal het die kwotasie gekry om die projek ten
uitvoere te bring en sluit in die daarstelling van 'n
herhalerstasie asook die verbetering van die kommunbikasie
sisteem. Sodra die herhaler in werking is sal 'n baie wyer
gebied dekking ontvang en sal selfs persone van Marquad,
Clocolan en Ficksburg kan aansluit.
|
|
OOS-KAAP
VALHEKKE: HENDERSON
LANDBOUVERENIGING
Die gebied sluit die Henderson vallei en die
Coverside area in. In die lig van die voortslepende plaasaanvalle in
die gebied en toename in veediefstal is besluit om valhekke in die
gebied op te rig om voertuigbeweging te monitor. Die totale gebied is
530km² groot en sluit 45 plaaseienaars in asook drie skole, twee
polisiestasies en ‘n totale bevolking van ongeveer 1 200 persone. Die
oprigting van die valhekke is op 17 Februarie 2004 deur die Provinsiale
LUR vir Veiligheid, Skakeling en Vervoer goedgekeur. Die Trustfonds het
‘n bydrae tot die oprigting van die valhekke gemaak.
VALHEKKE: BO CATHCART
BOERE- EN WOLKWEKERSVERENIGING
In die gebied woon
22 plaaseienaars en 8 ander gesinne en elke plaaseenheid verteenwoordig
10 plaaswerker families met ‘n totaal van ongeveer 1 400 mense. Baie ou
persone woon in die gebied wat ‘n bron van kommer is vir die
vereniging. Verskeie misdade kom in die gebied voor asook ‘n hoë
voorkoms van veediefstal. In die meeste gevalle word die paaie as
toegangsroetes gebruik in die uitvoering van die misdade.
‘n Informele nedersetting naby Hogsback is besig om
te ontwikkel met die potensiaal dat misdaad in die gebied kan eskaleer.
Die oprigting van die valhekke word deur die gemeenskap geag as ‘n
effektiewe afskrikmiddel vir voornemende misdadigers. Die Trusftonds
het ‘n bydrae gemaak tot die oprigting van die valhekke.
VALHEKKE:
THOMASRIVIER BOEREVERENIGING
Die oprigting van
die valhekke is oorweeg op grond van ‘n versoek van plaaswerkers wat
deurlopend geïntimideer word deur kriminele wat die gebied binne kom.
Winsgewende landbouproduksie verkeer onder druk weens voortgesette
veediefstal wat weer ‘n effek het op die lewenskwaliteit van die
gemeenskap. Sedert Januarie 2001 tot Junie 2003 het die totale verlies
weens diefstal R1 266 570-00 beloop.
Plaasaanvalle het ook reeds in die gebied voorgekom
en ‘n bron van kommer vir die gemeenskap is die jag van wild met honde.
Die totale oppervlakte wat deur die valhekke beskerm sal word beslaan ‘n
oppervlakte van nagenoeg 31 000ha. Twee skole kom die gebied voor en 19
plaaseienaars, 126 plaaswerkers en ‘n totaal van 680 persone woon in die
gebied. Die Trustfonds het ‘n bydrae gemaak tot die oprigting van die
valhekke.
VALHEKKE:
SWAERSHOEK LANDBOUVERENIGING
Die Swaershoek
gebied sluit ‘n gedeelte van die Somerset-Oos en Pearston distrikte in.
Die gebied beslaan ‘n oppervlakte van nagenoeg 72 000ha met 24
grondeienaars en ongeveer 150 plaaswerkers wat daar woonagtig is. Die
primêre doel met die oprigting van die valhekke is om alle inwoners se
veiligheid te verbeter. Dit is hoofsaaklik ‘n vee- en wildboerdery
gebied en veediefstal is aan die toeneem in die gebied. Met die
vestiging van inheemse wildspesies, sal die valhekke kan dien as
afskrikmiddel vir onwettige wildjag.
Goedkeuring is op 25 September 2003 deur die
Oos-Kaapse LUR vir Veiligheid, Skakeling en Vervoer verleen vir die
oprigting van die hekke. Die Trustfonds het ‘n bydrae gemaak tot die
oprigting van die valhekke.
VALHEKKE: SMALDEEL BAVARIA
Smaldeel Bavaria is geleë in die Adelaide gebied van
die Oos-Kaap. Ongeveer 2 000 persone sal ten opsigte van hulle
veiligheid baat met die oprigting van ‘n valhek. Herhaalde voorvalle
van veediefstal, huisinbrake, voertuig- en veediefstal kom voor.
Aangesien die gebied grens aan die Adelaide gebied waar valhekke opgerig
is, het die gebied ook gebaat by die verbeterde veiligheid in die
gebied. Sedert die valhekke opgerig is, is geen voertuie gesteel en min
inbrake en plaasaanvalle het voorgekom. Die totale gemeenskap is
positief oor die beveiliging van die gebied met valhekke. Die publiek
wat deur die gebied reis is ook positief. Veediefstal het met 70%
afgeneem.
Die Adelaide polisie rapporteeer ook dat daar ‘n
sigbare afname in die voorkoms aan veediefstal is en dat die oprigting
van die valhekke ‘n effektiewe inisiatief is om die gebied te beskerm.
Die oprigting van die valhek is op 14 Oktober 2004 deur die Oos-Kaapse
LUR vir Veiligheid, Skakeling en Vervoer goedgekeur. Die Trustfonds het
‘n bydrae gemaak tot die oprigting van die valhek.
LASER-SEKURITEITSWAARSKUWINGSTELSEL: POST RETIEF:
Die
Post Retief Bewaringsarea is geleë in die Adelaide-gebied van die
Oos-Kaap en sluit 42 boere, hul plaaswerkers en gesinne in. Tydens 2004
is goedkeuring verleen vir die installering van valhekke in die gebied.
Ten spyte van die beheer wat op voertuigbeweging in die gebied toegepas
word, ondervind die gemeenskap steeds veediefstal by enkele punte wat
per voet bereikbaar is. In samewerking met die plaaslike polisie is
besluit om ‘n laser-waarskuwingstelsel by die punte te installeer wat
sal dien as vroeë waarskuwing dat voornemende kriminele die gebied
betree. Met die stelsel kan die oortreder aangekeer word en in die
langer termyn kan die stelsel as ‘n afskrikmiddel dien. Die Trustfonds
het fondse bewillig vir die aankoop van die laserstelsel.
HERHALERSTELSEL:
BIRDS RIVER LANDBOUVERENIGING
Die
Birds River Landbouvereniging het besluit om ‘n herhaler- en
radiostelsel vir hulle lede te installeer. Dié besluit is geneem nadat
verskeie lede hulle kommer uitgespreek het dat hulle nie met mekaar kan
kommunikeer in noodsituasies soos tydens veldbrande, veediefstalle en
met die opsporing van gesteelde voertuie nie. Verskeie opvolgoperasies
om voertuie op te spoor is bemoeilik deur swak selfoonopvangs en ook die
gebrek aan onderlinge kommunikasie van deelnemers aan sodanige
operasie. Die Trustfonds het geld bewillig vir die aankoop van ‘n
herhaler vir die vereniging.
TWEERIGTING RADIO’S:
FLOUKRAAL LANDBOUVERENIGING
Die vereniging is geleë in
‘n uitgestrekte plaasgemeenskap in die Jamestown omgewing. Kommunikasie
deur middel van Telkom-landlyne is swak en met tye totaal buite
werking. Selfoondekking in die gebied is ook onbetroubaar en
ontoereikend in noodsituasies. Gebiedsbeskerming word op ‘n aktiewe wyse
bedryf en patrollies word in samewerking met die plaaslike polisiediens
gery. Die polisie beskik oor radio’s, terwyl die landbougemeenskap nie
oor dieselfde kommunikasie beskik nie. Radio’s in boere se voertuie
behoort veiligheidskommunikasie tussen die polisie en boere te
bevorder. Dit sal die boeregemeenskap in staat stel om onderling met
mekaar, die polisie en ook met hulle gesinne tydens patrollies te
skakel. Die Trustfonds het fondse bewillig vir die aankoop van die
radio’s.
RADIO’S:
CLANVILLE LANDBOUVERENIGING:
Die
landbouvereniging het aansoek gedoen om finansiële ondersteuning vir die
aankoop van radio’s om noodkommunikasie in die gebied te bevorder. In
die stadium kan geen kommunikasie tussen lede plaasvind in noodsituasies
nie, behalwe deur landlyntelefone. Selfoonopvangs in die gebied is ook
beperk. Gereelde onderbrekings in landlynkommunikasie vind plaas wat
noodkommunikasie in noodgevalle bemoeilik. Geen lede beskik tans oor
radio’s vir kommunikasiedoeleindes nie. Die effektiewe implementering
van sektor-polisiëring sonder kommunikasie is ook nie moontlik nie,
aangesien daar nie met mede-reserviste en die polisiestasie kontak
gemaak kan word nie. Die Trustfonds het geld bewillig vir die aankoop
van radio’s vir gebruik deur die vereniging.
Post Retief Boerevereninging: Toegangsbeheerprojek
Die Post Retief-bewaringsarea beslaan nagenoeg 100 000 ha en sluit
nagenoeg 4 000 persone in die gebied in. Die boerevereniging pas
toegangsbeheer deur middel van drie valhekke in die gebied toe.
Waghuisies is reeds opgerig deur lede van die bewaringsarea. ´n Behoefte
aan finansiële bystand bestaan vir die verskaffing van beligting,
padtekens, elektriese werk en die oprigting van valhekke. Die Raad van
Trustees het ‘n bedrag bewillig vir die daarstel van die bewaringsarea.
Volgens Agri Oos-Kaap kom geen misdaad in die gebied meer voor nie.
Gekodefiseerde naamborde in die Uitenhage-, Wolfontein- en Keimond gebiede
Reaksietyd is van groot belang tydens enige vorm van optrede hetsy dit
veldbrande, vloede of plaasaanvalle is. Deur die verskaffing van
gekodifiseerde naamborde in die Uitenhage-, Wolfontein- en Keimond-gebiede is plase gekodifiseer en genommer volgens ´n kaart in die
Operasionele Kamer van die SAPD en kommondo's. Plase wat van die borde voorsien is en wat in nood verkeer,
sal voortaan makliker
geïdentifiseer word met die gevolg dat reaksietye verkort sal word.
Winterberg-bavaria: Elektriese valhekke
|
Twee elektriese valhekke,
teen ‘n koste van R180 000, is deur die Winterberg
Boerevereniging opgerig wat toegangsbeheer in die gebied toepas.
Die oppervlakte wat deur die valhekke gediens word, is ongeveer
86 000 ha en sluit 25 boere in met ongeveer 1 000 persone wat in
die gebied werk en woonagtig is. Dit is nie net die
boerderygemeenskap wat uit die valhekke voordeel sal trek nie,
maar ook plaaswerkers en hulle afhanklikes. Die inligting wat
deur ‘n kamera in die valhek ingesamel word, word in ‘n rekenaar
gestoor en is deurlopend tot die SAPD se
beskikking. Verkeersvloei in die gebied het met 45% afgeneem.
|
|
|
 |
Die doel van die valhekke is om voertuigbeheer in en uit die gebied op
‘n 24-uur basis toe te pas. Die valhekke word elektronies beheer deur
middel van ‘n monitering- en videokamerastelsel. Die SAPD verwelkom die
inisiatief en het ook toegang tot die videomateriaal, indien hulle dit
sou benodig vir ondersoekwerk. Die oprigting van die valhekke is
goedgekeur deur mnr D Neer, die LUR vir Veiligheid in die Oos-Kaap. Die
versoek is ondersteun deur Agri Oos-Kaap.
Veiligheidsbrosjure
 |
|
Agri Oos-Kaap, in
samewerking met die SAPD en die SANW se Gesamentlike Streekstaakmag Suid, het ‘n
veiligheids-brosjure ontwikkel wat in die Oos-Kaap onder die landelike
gemeenskap versprei word. Hierdie brosjure bevat
inligting rakende huis- en haardbeskerming, handige wenke om
plaasaanvalle te voorkom en noodnommers wat geskakel kan word vir vinnig reaksie. Die doel met dié brosjure
is om pro-aktief en voorkomend op te tree deur die landelike
gemeenskap in te lig rakende aspekte wat in ag geneem behoort te
word om hulle eie veiligheid in stand te hou. Die Agri Securitas
Trustfonds het die samestelling en druk van hierdie brosjure
finansieël ondersteun. |
|
|
Baviaans Bavaria: Valhekstelsel
Die Baviaans-bewaringsarea val onder die bestuur van die Bedford
Boerevereniging. Die bavaria het reeds drie valhekke op die Baviaansrivierpad tussen Bedford en Tarkastad opgerig wat goed funksioneer. Die
hoeveelheid verkeer deur die area het reeds met sowat 30% gedaal met ‘n
positiewe effek op die bekamping van veediefstal en die onwettige jag
van wild. Verskeie ander misdade kom in die gebied voor en die pad
tussen die Transkei en Port Elizabeth is bekend as die “dagga run”. Die
bavaria dek ‘n oppervlakte van sowat 90 000ha en bestaan uit 27 lede.
Nagenoeg 200 plaaswerkers en hulle gesinne vorm deel van die
bewaringsarea. Die Trustfonds het finansieël bygedra tot die daarstel
van die bavaria. Volgens Agri Oos-Kaap kom geen misdaad in die gebied
meer voor nie.
Finansiële bystand
Mnr en mev JP Jordaan van die plaas Pendery in die Burgersdorp-distrik
is op 2 Desember 2000 om ongeveer 06:45 deur ‘n onbekende swartman buite
hulle plaaswoning met ‘n graaf en sekel aangeval. Mnr en mev Jordaan is
onderskeidelik 76 en 69 jaar oud, pensioenarisse en getroue meelewende
lede van Agri Oos-Kaap. Tydens die aanval het die egpaar ernstige hoof- en
gesigsbeserings opgedoen en moes mediese aandag kry. Die egpaar is
behoeftig en kon geen mediese fonds premies bekostig nie en het ook nie beskik
oor die finansiële middele om die mediese uitgawes wat tydens die aanval
opgedoen is, te dek nie. Sekere items, soos hul brille, wat gedurende die aanval beskadig
is, is deur versekering gedk, maar die koste vir konsultasies,
medikasie en tandheelkundige dienste wat dringend nodig was, kon nie
bekostig word nie. ‘n Finansiële bydrae is tot die mediese uitgawes van
die egpaar gemaak.
Adelaide Landbouvereniging: Toegangsbeheer
Die Adelaide Landbouvereniging het ‘n bewaringsgebied wat 140 000ha
insluit gestig. Die hoofdoel met die bavaria is om toegangsbeheer tot
die gebied te verkry en daardeur op ‘n pro-aktiewe wyse die veiligheid
van plaasbewoners, insluitende plaaswerkers, te verseker. Met die
toegangsbeheer sal verder gepoog word om vee- en wilddiefstal aan bande
te lê, asook die diefstal van voertuie. Die Trustfonds het ´n bydrae
gemaak tot die daarstelling van die infrastruktuur om die gebied te
beveilig.
Hilton-bewaringsgebied: Valhekke
Die Hilton-bewaringsgebied beslaan
‘n oppervlakte van nagenoeg 90 000 ha, wat strek vanaf Queenstown
suidwaarts tot by Cathcart langs die Ciskei-grens. Die rede vir die
totstandkoming van die gebied was dat die landbougemeenskap geteister is
met ‘n hoë voorkoms van veediefstal, rowe, plaasaanvalle en onwettige
jag. Sedert die ontstaan van die bavaria in November 1994 het die
diefstal van byvoorbeeld skape gedaal tot minder as 30 per jaar.
Die bavaria word bedryf in noue
samewerking met die plaaslike polisie en die weermag. Verskeie lede van
die bavaria is polisiereserviste en kommando-lede. Huidiglik word twee valhekke
reeds bedryf en die oprigting van ‘n verdere vyf word beplan. Die
inbedryfstelling
van die bavaria en valhekke geniet die totale gemeenskap se goedkeuring
- 'n besluit wat in September 2002 in Queenstown deur die
gemeenskap geneem is. Die oprigting van die valhekke is ook deur Bisho
goedgekeur wat die bedryf daarvan wettig maak.
Die Trustfonds het ‘n bydrae
gemaak tot die gedeeltelike finansiering van die valhekke.
Tylden Bewaringsgebied: Valhekke
| |
Die Tylden Bewaringsgebied
beslaan ‘n oppervlakte van 20 000 ha en is aangrensend aan die
Hilton Bewaringsgebied. Die rede vir die totstandkoming van die
gebied was dat die landbougemeenskap geteister is met ‘n hoë
voorkoms van veediefstal, rowe, plaasaanvalle en onwettige jag.
Die gemeenskap verwag dat die beplande valhekke 'n
betekenisvolle verbetering teweeg sal bring aan die misdaadsituasie in
dié gebied. Veertien boere en hulle plaaswerkers asook die Goshen-
gemeenskap is by die ewaringsgebied betrokke. |
|
 |
Daar word drie valhekke vir die gebied
beplan. Die valhekke sal opgerig word op die Whittlesen/Raglan-pad, die
Waqu/Tylden-pad en die Tylden/Queenstown-pad. Die inbedryfstelling van
die bavaria en valhekke geniet die totale gemeenskap se goedkeuring wat
tydens ‘n besluit in September 2002 in Queenstown deur die gemeenskap
geneem is. Die oprigting van die valhekke is ook deur Bisho goedgekeur
wat die bedryf daarvan wettig maak. Die Trustfonds het ‘n bydrae gemaak
tot die gedeeltelike finansiering van die valhekke.
Jansenville: Valhekke vir veiligheid
Die Trustfonds het fondse bewillig vir die oprigting van valhekke in die
Jansenville en Samekomst gebiede. Die oppervlakte wat deur die oprigting
van die valhekke gemonitor sal word, beslaan 145 000ha waar 93
grondeienaars en 425 plaaswerkers en hulle gesinne woonagtig is. Die
motivering vir die oprigting van die valhekke is om toegangsbeheer te
monitor en daardeur die misdaadsituasie in die gebiede aan te spreek tot
voordeel van die gemeenskap. Met die valhekke sal verder gepoog word om
vee- en voertuigdiefstal te bekamp en onwettige jag te voorkom. Beide
die valhekke geniet die totale gemeenskap se ondersteuning en is
goedgekeur deur die LUR vir Provinsiale Veiligheid in die Oos-Kaap
provinsie.
MPUMALANGA
RADIO’S: AGRI
MIDDELBURG
Uitkyk Rampbestuur in die Middelburg-gebied maak die
grootste gedeelte uit van die gemeenskapsbeveiligings poging en is ‘n
voorloper met die implementering van sektor-polisiëring in Middelburg.
Dit is hoofsaaklik ‘n landelike gebied met min tot geen telefoon of
selfoondekking. Die enigste effektiewe wyse om in noodsituasies te
kommunikeer is by wyse van radio’s en om hierdie effektiwiteit te
verhoog het die Trustfonds ‘n bydrae gemaak tot die aankoop van
addisionele radio’s wat aan Agri Middelburg geskenk word.
OPRIGTING VAN PLAASBORDE IN DIE SCHAGEN/ALKMAAR
OMGEWING
Die Schagen Veiligheidskomitee het begin om alle
roetes in die plaasomgewing van Schagen en Alkmaar te merk. Die doel
hiervan is om die reaksietyd van die polisie ten tye van nood te verkort
sodat daar vinnig op veiligheidsgebeurlikhede gereageer kan word. Die
oprigting van die borde sal ook as ‘n afskrikmiddel dien vir voornemende
misdadigers aangesien dit ‘n paraatheidstand deur die gemeenskap
uitbeeld. Die Trustfonds het ‘n finansiële bydrae gemaak tot die
oprigting van die borde.
WATERVALSRIVIER
BOEREVERENIGING
Die boerevereniging is geleë
in ‘n vallei naby Burgersfort met die R37 hoofpad tussen Lydenburg en
Burgersfort wat deur die vallei loop. Die gebied word omring deur berge
wat die toegang deur die gebied beperk en maak dat polisiëring makliker
kan geskied. Die Lydenburg Kommando het in Maart 2007 ontbind en sal
volgens die versoek die platteland kwesbaar laat teen misdaad. Die
vallei gebied is as ‘n polisiëringsektor geregistreer, maar die
gemeenskap geniet weinig ondersteuning van die polisie. Verskeie boere
woonagtig in die vallei het gedurende 1993 by die polisiereserviste
aangesluit. Gedurende 2005 het ‘n verdere 25 persone as reserviste
aangesluit, maar hulle aansoeke is nog nie afgehandel nie. Die
gemeenskap het ‘n goed saamgestelde reaksiegroep en patrolliediens wat
op ‘n daaglikse basis bedryf word. Die hele gemeenskap dra by tot die
koste van die patrolliediens en tot die administrasie daarvan. Twee
voertuie patrolleer die gebied daagliks en maandelikse beplanning saam
met die plaaslike polisie word gedoen. Daar sal ook maandeliks verslag
gedoen word aan die polisie. In noodgevalle word die drie
toegangsroetes afgesper. Die patrolliediens is reeds aktief aan die
gang, maar die gemeenskap benodig toerusting om sigbaarheid te verbeter
tydens optredes. Die Trustfonds het fondse bewillig vir die aankoop van
koeëlvaste baadjies, soekligte, verkeerskegels, padblokkade
waarskuwingsborde, stop- en polisieborde.
Witrivier: Plaasnommerborde
Die Witrivier-distrik was een van die distrikte wat die swaarste getref
was deur plaasaanvalle in die land. Die probleem is ´n bron van kommer
vir die boere, daarom het hulle in samewerking met die SAPD en kommando
begin om al die plase en kleinhoewes in die distrik te nommer volgens ´n
kodestelsel waardeur die reaksievermoë van veiligheidsmagte verkort kan
word.
Boere in die distrik werk nou saam met die kommando en verskeie
plaaspeletons bestaan reeds en plaaspatrollies word gereeld gery. Aan
die oostelike grens, grens die distrikte aan ´n informele gebied vanwaar
verskeie plaasaanvalle in die verlede geloods is. Die Trustfonds het ‘n
bedrag bewillig vir die aankoop van die borde.
Schagen Veiligheid
Schagen Veiligheid is op 24 Augustus 1998 in die Nelspruit-omgewing
gestig as gevolg van die stygende misdaad in die land en die groeiende
tendens van plaasaanvalle in die gebied. ‘n Beheerkamer is gestig en
beskik oor die persoonlike besonderhede van al die inwoners asook kaarte
waarop onder meer toegangsroetes en die ligging van woonhuise aangedui word. Die hoofdoel
is om die hele gebied te beveilig vir al die inwoners, hetsy werkgewers
of werknemers. Die Trustfonds het ´n geldelike bydrae gemaak tot die
aankoop van koeëlvaste- en weerkaatsbaadjies, waarskuwingsborde,
soekligte en die oprigting van ´n herleistasie waardeur Schagen sy eie
veiligheid kan bedryf.
Fotografiese toerusting bevorder wetstoepassing
 |
|
Die SAPD Speurdiens in Mpumalanga
het aansoek gedoen om die befondsing van digitale
kameras vir aanwending op misdaadtonele. 'n Tekort aan geskikte
toerusting belemmer die speurdiens se werk, veral die
vaslegging van getuienis op die misdaadtoneel.
|
|
|
Die fotografiese toerusting sal gebruik
word op misdaadtonele soos by plaasaanvalle waar belangrike
getuienis versamel kan word en kan dien as bewysstukke tydens
hofverrigtinge. Die toerusting sal ook gebruik kan word vir die
identifikasie van gesteelde vee of die fotografering van misdaadtonele
waar grusame slagtonele, hakskeenkappings, spore monsters en ander
leidrade gefotografeer kan word. Volgens staatsaanklaers sal swaarder
strawwe opgelê kan word, indien fotografiese bewysstukke voor die hof
gelê kan word.
Veediefstal bly ‘n prioritietsmisdaad in die Mpumalanga provinsie en is
een van die redes waarom boere hulle veegetalle verminder. Die
Mpumalanga provinsie is ook die provinsie wat die meeste geraak word
deur plaasaanvalle. Die fonds het vyf kameras aan die SAPD geskenk.
NOORD-KAAP
PADBLOKKADETOERUSTING
Die voorsiening van
padblokkadetoerusting aan die Griekwastad/Grootrivier Boerevereniging is
deur die Trustfonds bewillig sodat die SAPD misdaad op ‘n voorkomende
basis kan bestry. Hierdie toerusting sal in padblokkades en
voorsitoperasies gebruik word, veral vir die bekamping van veediefstal.
KIMBERLEY: SAPD
Drie Pulnix veediefstal
moniteringstelsels is aan die SAPD in Kimberley geskenk waardeur die
diefstal van vee gemonitor en voorkom kan word.
Koopmansfontein Boerevereniging: Veiligheidsborde
Die Koopmansfontein Boerevereniging in die Noord-Kaap het
veiligheids-waarskuwingsborde in die boerevereniging se gebied
aangebring. Verskeie myne is tans in die gebied aktief en daar is
gedurig voertuie en vreemde persone wat die gebied binnekom en ‘n
veiligheidsrisiko vir die boeregemeenskap inhou. Die doel van die borde
is om persone te waarsku dat dit privaat eiendom is en dat betreders
vervolg kan word en sodoende word die veiligheidsrisiko vir die
boeregemeenskap verlaag.
Volop- en Niekerkshoop Boerevereniging: Roepsein- en
plaasnommerstelsel
In die strewe na beter koördinering van veiligheidsaksies op grondvlak,
het die Volop- en Niekerkshoop Boereverenigings ´n stel roepseine en
plaasnommers ontwikkel waardeur reaksietye in noodsituasies verbeter kan
word. Die roepseine en plaasnommers word op die dakke van wonings geverf
wat dit maklik sigbaar uit die lug en van die pad af maak. Die Trustfonds
het ´n bydrae gemaak tot die aankoop van die verf vir die aanbring van
hierdie nommers.
Hopetown Kommando: Radiostelsel
Die Hopetown Kommando bedien die Hopetown en Strydenburg gemeenskappe en
beskik oor ‘n aktiewe en goed georganiseerde plaasbeveiligingstelsel.
Die gebied is in agt sektore verdeel volgens die verskillende
boereverenigings binne die gebied. Elke maand word ‘n Gesamentlike
Operasionele Koördineringskomiteevergadering (GOKOK) gehou wat deur elke
sektorleier of boerevereniging en ander rolspelers bygewoon word. Die
kommando het ‘n dringende behoefte aan ‘n Marnetradio om die
betroubare Marnetnetwerk in die gebied te bedien. Kommunikasie tussen boere is goed,
maar die kommando kon weens ‘n gebrek aan fondse nie ‘n radio aanskaf om
met die gemeenskap te kommunikeer nie. Die kommando beskik nie oor ‘n
bevel-en-beheer skakelfunksie nie, wat hulle optrede aan bande lê en
reaksietyd word ingeboet. Die Trustfonds het ‘n Bantam MK radio aan die kommando geskenk om hulle
kommunikasie-vermoë te verbeter.
Veediefstal-moniteringstelsel
Die Pulnix-stelsel word gebruik in die bekamping van veediefstal in die
Noord-Kaap. Die stelsel word op die toegangsroete van misdadigers
opgestel en het ‘n reikwydte van tot 300m. Sodra die infrarooi sensor
geaktiveer word, word ‘n alarm by die volgende plekke geaktiveer:
-
Per radiosender na die betrokke
SAPD-stasie waarna die ondersoekbeampte in kennis gestel word dat die
alarm geaktiveer is;
-
Per radiosender na ‘n
handradio of motorradio;
-
Per selfoon na die
ondersoekbeampte.
Die voordeel van die stelsel is
dat die SAPD se mannekrag meer effektief aangewend kan word.
Veediefstaleenhede hoef nie meer voorlê-dienste te verrig nie, aangesien
die toestel die funksie verrig. Verskeie suksesse is reeds in die
Noord-Kaap met die toestel behaal waar veediewe aangekeer is.
Die toestelle sal die eiendom van die Noord-Kaap Rooivleisprodusente
Organisasie (RPO) bly en deur die
SAPD se Tegniese Dienste afdeling bedryf word. Gereelde terugvoer oor
suksesse met die aanwending van die toestel word aan die RPO tydens
hulle veediefstalvergaderings verskaf.
NOORDWES
Groep 20: Multimedia-projektor vir landelike beveiliging
Groep 20 is geleë in Mafikeng in die Noordwes Provinsie en het agt
kommando's met twee AOKOK'e, naamlik Marico en Malopo onder sy beheer.
Die opleidingskomponent van Groep 20 is verantwoordelik vir
magvoorbereiding en verskeie lesings en voorleggings word gereeld
aangebied. Hierdie opleiding word op ´n gereelde basis aan kommando's en ander
groepe, insluitend georganiseerde landbou verskaf. Die aanbiedings sluit
visuele aanbiedinge in met betrekking tot plaasaanvalle en
gevegsaanduidings wat gerig is op voorkomende maatreëls. In die
aanbiedings word van foto's en visuele gevegsaanduidings gebruik gemaak
om pro-aktiewe wenke deur te gee waardeur daar gepoog word om
plaasaanvalle te voorkom. ´n Ander verantwoordelikheid van Groep 20 is
die beveiliging van die internasionale grens tussen Suid-Afrika en
Botswana - dit sluit agt grensposte in. Al die grensposte word gebruik om
die infiltrasie van kriminele te voorkom. Die Trustfonds het
finansiering benodig vir die aankoop van ‘n multimedia projektor wat
gebruik sal word in voorleggings oor landelike veiligheid.
Delareyville Kommunikasiesentrum
Die sentrum is op 11 Oktober 2001 in gebruik geneem en bedien die
landelike gemeenskap van die Delareyville- en Sannieshof areas. Die sentrum
vervul die rol van ‘n vroeë waarskuwingsentrum waar veldbrande,
plaasaanvalle en verdagte voertuie gerapporteer kan word en vanwaar
boere die SAPD en kommando kan inlig, sodat die nodige stappe geneem
word. Voorts funksioneer die sentrum onder die beheer van die
Gesamentlike Operasionele Koordineringskomiteevergadering (GOKOK). Die Trustfonds het die volgende toerusting
geskenk: ‘n
rekenaar; 'n drukker en ‘n 2.7kv noodkragopwekker.
Die
kommunikasie wat op die radios toegelaat word, sal slegs verband hou met
veiligheidsaspekte en brandbestryding. Die radios word deurentyd in die
plaaslike polisiestasie en deur die kommunikasiehoof wat ook die Burg B
hoof is, gemonitor en indien enige persoon dit vir privaat doeleindes
sou gebruik sal hy onmiddelik deur die kommunikasiehoof aangespreek
word. Met die radios kan kommunikasie tussen lede en ‘n wyk gevoer word
wanneer daar op ‘n noodsituasie gereageer word. Die Trustfonds het
fondse bewillig vir die aankoop van die radio’s.
LIMPOPO
RADIO’S
– BOSVELDTAK
Die
stygende misdaadtendens in die Limpopo-provinsie het die Bosveld-tak van
Agri Limpopo genoodsaak om met erns die veiligheidstrukture van hulle
lede in oënskou te neem. Die grootste probleem in die gebied strek
vanaf Tom Bourke tot by Platjan weens die groot hoeveelhede onwettige
immigrante wat die gebied inkom en ‘n veiligheidsrisiko vir die totale
boerderygemeenskap inhou. Om die gemeenskap se noodkommunikasie te
verbeter, het die Trustfonds ‘n bydrae gemaak tot die aankoop van
radio’s wat reeds met welslae gebruik is in die bekamping van misdaad.
VEILIGHEIDSTOERUSTING:
SOUTPANSBERG DISTRIKS LANDBOU-UNIE
Die Soutpansberg Distriks
Landbou-unie, wat ‘n lid is van TLU SA, het aansoek gedoen om die
befondsing van uitrusting wat gebruik kan word in landelike
beveiligingsaksies. Die landbou-unie beskik oor ‘n goed ontwikkelde
veiligheidstruktuur wat binne die grense van die unie bedryf word deur
die landbougemeenskap. Waar nodig, vind alle optredes in oorleg met die
plaaslike polisiediens plaas. Die toepaslike wetgewing rig ook alle
optredes van individue wanneer optredes beplan word. Die Trustfonds het
fondse bewillig vir die aankoop van koeëlvaste baadjies, groen
voertuigdakligte, glim-baadjies en MegLight-flitse.
|