SA handskeerder weer bekroon met wêreldtitel

Handskeerder Mayenseke Shweni is laasweek as wêreldkampioen tydens die Wêreld Skaapskeer en Wolhanteringskampioenskappe wat in Invercargill, Southland, Nieu Seeland plaasgevind het, bekroon. Hy het beide die Southland All Nations Ope kampioenskappe sowel as die Wêreldkampioenskappe titels in die Handskeer afdeling gewen. Dit is Shweni se tweede wêreldtitel terwyl hy naaswenner was tydens die 2011 kampioenskappe. Sy spanmaat Bongani Joel het vierde plek in die finale verower.

Die Suid-Afrikaanse span het ‘n week voor die kompetisie ‘n 2 en half dae oefensessie ondergaan om 1 000 ooie te skeer in die plaasskuur van Chris en Robin O’Connell in Orepuki. Hier is hulle blootgestel aan die tipe skaap wat baie sterk wol (tussen 36 – 40 mikron) lewer en wat lyk soos ou bokhaar. Hierdie sessie is ook goed benut ter voorbereiding van hul skaapskêre vir die kompetisie.

Volgens die skeerspan bestuurder, Izak Klopper is Suid-Afrikaanse skeerders fisies sterker as hulle Australiese en Nieu Seelandse kompiteerders as gevolg van die feit dat hulle baie meer skaap skeer. Hulle voorarms en handspiere is meer gelouter en hul uithouvermoë is baie sterker gevestig.

Suider-Afrika oorheers die handskeerafdeling sedert 1996 toe Elliot Ntsobo van Lesotho as eerste deelnemer uit Afrika gekroon is as wêreldkampioen. Zweliwile Hans het die titel al vier keer verower, die eerste keer in 1998 in Gorey, Ierland.

Die Nasionale Wolkwekersvereniging van Suid Afrika (NWKV) juig oor die prestasies van Shweni en Joel en kan met trots verkondig dat die standaard van skeer in Suid Afrika, van wêreldgehalte is. Die emosies wat gepaard gegaan het met die aankondiging en oorhandiging van die titel, getuig van ware ambassadeurskap.