SAB vervoer dierevoeding na droogtegebiede

Die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) van Potchefstroom doen hulle deel vir boere deur dierevoeding na Bultfontein en die Hoopstad-omgewing aan te ry. Senwes het in ‘n verklaring vir SAB dankie gesê.

Francois Strydom, groepuitvoerende hoof van Senwes sê in die afgelope paar weke het SAB 11 vragte dierevoeding na Bultfontein vervoer; dit was in totaal 550 bale voer. Die aflewering van die voer het baie gehelp om vee aan die lewe te hou in die droogtetyd.

Henk Koekemoer van SAB Potchefstroom, sê die organisasie is trots daarop om die gemeenskap te kan help. “Die projek, in samewerking met Senwes en die boere in die omgewing, was ‘n geleentheid vir ons om die gemeenskap te bedien deur ons tyd en hulpbronne te gee om ‘n verskil in ander se lewens te maak.”

Die voorsitter van die Bultfontein Distriks Landbouvereniging, Herman Meiring, sê namens die gemeenskap dankie. “Om dankie te sê is ‘n klein gebaar, maar ons bedoel dit uit die diepte van ons harte en ons is dankbaar nie net vir die voer nie maar ook vir die ongelooflike vriendelikheid en welwillendheid wat ons vanaf almal wat betrokke was, gekry het.”

Gerhard Toerien, een van die boere wat die voer ontvang het, was baie bly oor die mooi gebaar. “Ek het nie woorde om my reaksie te beskryf nie. Hulle het die voer net hier op my plaas kom aflewer.”

Senwes, wat ‘n stigterslid van die Agri SA Droogterampfonds was, is steeds betrokke by die projek. Herman sê ook indien produsente voer het om te skenk kan hulle hom skakel.