Grond en ons toekoms - Omri van Zyl - Agri SAAgri SA

Grond en ons toekoms – Omri van Zyl

Grond en ons toekoms

Omri van Zyl

 

Ons geslag Suid-Afrikaners sal dinge in ons land moet laat werk anders staar ‘n duister toekoms ons in die gesig, skryf Omri van Zyl.

As kind het ek alleen op die postrein geklim in Pretoria en by Riverton-stasie afgeklim waar ons familieplaas was.

Die plaas was al ‘n paar geslagte in ons familie en ‘n produktiewe polsende plek – rooigrond, kameeldoringbome, vaalbos, dorpers en Bonsmaras.

So het ek kaalvoet die vlaktes met my .22 leer ken en hase, korhane, tarentale en duiwe gejag en saans saam met my bruin en swart maatjies om die vuur gesit en “java” gedrink, stories vertel van die dag se jag, perdry en lekker aan die taai geskroeide vleis geëet.

Ons het ‘n sokkerspannetjie gehad – die “Wonderboys” – en kaalvoet teen Soutpan, gypson en ander spannetjies gespeel. Ek het tot Allied Bank gekry om ons te borg met T-hemde, wat natuurlik heeltemal te groot vir ons was, maar ons het hulle gedra. Ons was geborg!

Ons het gewoonlik ‘n geldjie op die wedstryd geplaas. Daardie tyd was dit R3 en almal het ‘n bydrae gemaak. Ons was die kampioene van die kontrei.

Van die 12 manne in die “Wonderboys” leef nog net 3 vandag; ons sokkermaats is oorlede aan vigs, geweld en siekte.

Ek onthou nog glashelder hoe my ouma, op die stoep in die wintersonnetjie, stories vertel het van die Anglo-Boereoorlog en hoe die Engelse die aarde verskroei het, hoe ons familie by die hope in konsentrasiekampe doodgegaan het aan wanvoeding en siekte en hoe my ander grootoupagrootjie – genl. Piet Croné by Paardeberg oorgegee het. Dit was die begin van die einde van die oorlog.

Dit was oorlog, hongersnood en swaarkry op ‘n skaal wat min van ons vandag verstaan. Ek onthou hoe my ouma-hulle in hartbeeshuisies moes bly en alles van voor af moes opbou. Die Afrikaner is ‘n taai klomp mense. Ek dink baie oor die gebeure en die geskiedenis van my voorsate.

 

Ons leef in ‘n komplekse samelewing

 

Dan gaan ons terug in die geskiedenis en vra wie het wie se grond gevat, in watter stadium was dit legitiem. Ná al my leeswerk besef ek ons was eintlik almal in daardie tyd op die een of ander manier gekolonialiseer.

Ek het twee weke gelede ‘n vergadering gehad met die tradisionele leiers wat wil hande vat. Hulle het traktate uit die tyd van die Boererepublieke wat bewys dat die grond hulle s’n is en hulle wil nou kaart en transport daarvan hê. Hulle sit met miljoene hektaar se onontwikkelde grond waar mense nog van die hand na die mond leef.

Ek dink toe net weer by myself hoe ‘n komplekse samelewing ons leef.

Ja, ek het empatie, baie daarvan, met die mense van ons land, ook die mense wat meegesleur word met die strome van kommunisme en sosialisme, waar kaders mekaar aanspreek as “comrade” en grondonteiening as ‘n oplossing gesien word. Ek is ook al ‘n paar keer “comrade” genoem, maar ek dink dat hulle mekaar nie eens meer in Rusland “comrade” noem nie.

Nêrens in die wêreld het ‘n kommunistiese bestel gewerk nie, met die uitsondering van natuurlik China, maar om China met enige plek op aarde te vergelyk, is soos om Arabies in die Amasone te praat, niemand gaan mekaar verstaan nie.

So het ons planne aan die grondwetlike hersieningskomitee voorgelê en ons beste posisionele spel gespeel. Ons gaan dit hard speel, want dis wat ons doen by Agri SA.

Ek dink ons doen ontsettend goed om al die magte om ons te bestuur. Baie mense sal van die meeste hiervan nie weet nie en dit nie sien nie, maar ons bestuur hulle so goed as wat ons kan.

 

Een ding het ek wel geleer – niemand is ‘n eiland nie. Ons geslag sal dinge in ons land moet laat werk anders gaan ons soos alle ander Afrika-lande ekonomies en sosiaal tuimel na ‘n plek toe waar ons verlede niks sal beteken nie en ons toekoms op niks sal uitloop nie.

Dan maak dit ook nie saak wie reg is en wie verkeerd is nie, want dan het die eindfluitjie geblaas.

In Suid-Afrika sit ons met die wonderlikste mense, talente, warmte, vriendelikheid. Dalk is die reënboognasie onder skoot, dalk was die regses reg – óf die linkses.

 

Een ding weet ek egter wel: As die ekonomie of landbou verloor, gaan almal verloor.

Ons kan nie toelaat dat dit gebeur nie.

Bron: Netwerk24