Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer - Agri SAAgri SA

Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer

Agri Wes-Kaap Santam Landbou

Jongboer van die Jaar 2018

Mnr Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê vanjaar se kompetisie het wéér sterk kandidate opgelewer, wat weer eens bewys die toekoms van die Wes-Kaap se landbousektor IS in baie goeie en uiters kundige hande.

JOHANN DE WET

Johann de Wet

Johann (35) is die hoof uitvoerende beampte van De Wetshof Landgoed by Robertson waar hy al vir 13 jaar met wingerd en lusern boer. Hy het met lusern begin boer op grond waar wingerd uitgehaal is om die grond eers behoorlik te laat rus voor die volgende wingerd geplant word. Johann sê wanneer kennis – van die grond tot by die produk – en die beste tegnologie saam ingespan word, kan jy oordeelkundige besluite neem en geld en tyd bespaar. “Daardie ekstra tyd is waar die verskil inkom.” Hy sê sy bestuurstyl is gebou op dissipline en orde. “Elkeen is terdeë bewus van hoe belangrik hul waarde in die ketting is om ‘n uitmuntende produk te produseer. My visie vir die toekoms is om De Wetshof Landgoed ‘n wêreldleier Chardonnay-huis te maak.” Johann, wat ook die voorsitter van die Chardonnay Vereniging Suid-Afrika is, se kollegas beskryf hom as iemand wat graag na wyse, goed deurdagte en gemotiveerde raad luister.

 

JUANITA BELLINGAN

Juanita Bellingan

Juanita (24) is die bestuurder van Kruidfontein, ‘n 20 000ha Merino-skaap-; angorabokke-; Angus/Simmentaler-bees- en wildsplaas by Nelspoort in die Karoo. “As vrou is dit vir my ‘n groot uitdaging op so ‘n groot boerdery in ‘n manswêreld, maar ek glo my Skepper lei my.” Juanita het haar landbou-diploma aan die Grootfontein Landboukollege verwerf en is al twee jaar op die plaas. Sy sê ten spyte van uitdagings soos droogte en ongediertes, wil sy die plaas se omset jaarliks vergroot. “Die potensiaal van die plaas word optimaal benut deur nie oor te bewei nie en kampe tyd te gee om te rus, en deur ons wolvolume, lampersentasie en slagpersentasie te verhoog.” Juanita sê opleiding vir hul werkers is vir haar baie belangrik. “Almal moet saam ‘n opleidingsdag bywoon, of jy nou wil of nie.  Die moontlikheid dat jy iets gaan leer, is groter as wat jy niks sal leer nie.”

 

HENNIE LE ROUX

Hennie le Roux

Hennie (28) is die bestuurder van Skilpadsgat, Ab-inbev se gars-, koring-, kanola- en hawerplaas by Caledon in die Overberg. Hy het ‘n B.Agric-graad aan Elsenburg behaal en boer al vir agt jaar, waarvan die laaste vier jaar op Skilpadsgat. Hennie, wat besig is met ‘n Agronomie-diploma aan die Universiteit van Stellenbosch, sê sy prioriteit vir die komende seisoen is om ‘n wins te toon in een van die moeilikste jare vanweë swak pryse, stygende insetkoste, ‘n lang droogte en politieke onstabiliteit. “My visie is dat ons ‘n modelplaas in die Overberg sal wees wat tegnologie, produksie en wins aanbetref.” Hy sê hy streef ook daarna om die opkomende produsente op die plaas só te mentor dat hulle onafhanklik en winsgewend kan boer. “Kommersiële boere moet die voortou neem om opkomende boere te help en op te lei sodat hulle ook tot voedselsekuriteit en werkskepping kan bydra.”

 

MG LOTTER

MG Lotter

MG (38) boer op die plaas De Vlei by Caledon met kleingraan en skape. In 2005 het hy sy hand ook aan landboutoerisme gewaag en ‘n gastehuis op die plaas begin. “Dit het intussen aangegroei na drie gastehuise. Die trekpleister vir ons gaste is die interaksie met die mak plaasdiere op die werf,” sê hy. MG is na sy matriekjaar aan die Boland Landbouskool vir ‘n jaar Australië toe. “Ek het daar leer hard werk, en terug in die Overberg was ek begeesterd om die plaas soos die Australiërs in te rig om die werk vir onsself makliker te maak.”

MG sê die landbou hou hom as jongboer nederig. “Dit laat my die erns van ekonomiese besluite binne en buite die landbou besef. Jongboere se besluite vandag sal bepaal waar ons land in die toekoms in terme van voedsel gaan staan.”