CMW Wolmarkverslag 13 April 2018 - Agri SAAgri SA

CMW Wolmarkverslag 13 April 2018

MARKANALISE
Vandeesweek het die wolmark ‘n styging getoon teenoor die vorige veiling. Die Cape Wools Merino Aanwyser het ‘n styging van 2.6% aangeteken en met 450 punte hoër geëindig op R177.14 skoon. Die styging is in teenstelling met die Australiese EMI, wat met 0.5% gedaal het. Die styging kan grootliks toegeskryf word aan die daling van die Rand teenoor die vernaamste geldeenhede en het oor die 3% swakker vertoon teenoor die VSA Doller. Kompetisie was egter gesond tussen kopers, met Standard Wool wat die grootste hoeveelheid bale gekoop het. Wol van 20 – 21.5 mikron, het die grootste styging, van tuseen 3.5 en 4% getoon. Fyn wolle van onder die 17 mikron het egter steeds hoog verhandel. OVK se hoogste prys van R184.00/kg vandeesweek, is behaal met ‘n 1 baal lot BFFY van 16.5 mikron, uit die skeersel van Kareekrans Supers van Somerset-Oos. Die koper was Standard Wool. Baie geluk met die uistekende prestasie!

VOORUITSIGTE
Hierdie week se wolveiling het ‘n styging getoon teenoor die vorige veiling voor die Paasreses. Wat meer positief is hieraan, is die feit dat dit in teenstelling is met die Australiese EMI, wat die wêreld se grootste rigtingwyser is en wat ‘n daling van 0.5% getoon het. Dit is wel in lynregte navolging van die sterkte van die Rand, wat dienooreenkomstig met sowat 3% verswak het, maar is steeds positief in die sin dat die aanvraag stabiel is. Die hoeveelheid wol is egter steeds by die 8% minder as dieselfde tyd verlede jaar, wat hoofsaaklik ‘n uitvloeisel is van die knellende droogte wat groot produksiegebiede geteister het en in sommige gebiede, veral in die westelike gedeelte van die land, steeds die geval is. Die Chinese mark absorbeer +/- 70% van die wêreld se wolproduksie en is dus ‘n toonaangewende rigtingwyser i.t.v. prys en daarom is die mark in afwagting op wat die wintermodetendens in China gaan wees. Dit is egter nog ongeveer 8 maande weg, maar modehuise is reeds aan die beplan. Die afgelope seisoen het Chinese modes geredelik geneig tot natuurlike vesel, wat weerspieël is in die hoë pryse van wol. Indien dieselfde neiging voortduur, behoort wolpryse dienooreenkomstig positief te bly en selfs verder te styg. Die volgende wolveiling vind plaas op 18 April, waar sowat 7 330 bale onder die hamer sal kom.

Hierdie verslag deur Heinrich Victor, Opesasionele Bestuurder Vesel – OVK.

Klik hier om die volle verslag te besigtig.