Droogte nou nasionale ramp - Agri SAAgri SA

Droogte nou nasionale ramp

Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het die voortslepende droogte landwyd amptelik tot ‘n nasionale ramp verklaar.

Dit volg nadat die hof van die nasionale rampbestuursentrum die droogte op 8 Februarie tot ‘n nasionale ramp geklassifiseer het.

Die drie provinsies wat die ergste geraak word, is die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Oos-Kaap.

Mkhize het Dinsdagoggend op ‘n mediakonferensie by die parlement gesê die verklaring van die ramp is vir drie maande toepaslik. As die toestande voortduur, moet dit hersien word.

Hy sê alle regeringsfere moet die verklaring gebruik om hulpbronne te mobiliseer en om dringende ingrypings vir medium- tot langtermynherstel van die droogtetoestande te verseker.

Dit is daarop gemik om buitengewone maatreëls te aktiveer wat finansiering kan insluit gegrond op noodsaaklikheid en ander toepaslike toestande om aandag aan die invloed van die ramp te gee.

“Alle regeringsfere, die privaat sektor, nieregeringsorganisasies en gemeenskappe behoort tegniese sowel as finansiële hulpbronne te mobiliseer om ingrypingsmaatreëls toe te pas en herstel op langtermyn te oorweeg,” sê Mkhize.

Damvlakke het luidens ‘n verslag van die departement van water en sanitasie wat op 6 Maart uitgereik is, met ‘n fraksie van 63,2% tot 63,4% gestyg.

“Die verslag toon die droogtegeteisterde Wes-Kaap het landwyd die laagste damvlakke op 25,5% nadat dit van 26,1% die vorige week gedaal het. Ondanks die reënskaarste het Gauteng die hoogste damvlakke op 92,8% gevolg deur Mpumalanga op 77,9% en die Noord-Kaap op 67,9%

Die vlakke beteken egter nie die provinsies is uit die moeilikheid nie omdat waterskaarste ‘n algemene toestand in die meeste van ons gemeenskappe is. Dit noodsaak gedragsverandering en veilige waterverbruik,” sê Mkhize.

Ingrypings sluit is:

  • Die nasionale gesamentlike droogtekoördineringskomitee sal maandeliks byeenkom om multisektorale ingrypings in alle provinsies te koördineer;
  • Die land sal hard werk om sy kapasiteit op te skerpten opsigte van weervoorspellings sodat daar vroeë waarskuwingsdienste is om openbare kennis en veiligheid van waterverwante voorvalle te verseker;
  • ‘n Span kundiges sal saamgestel word om voortdurend navorsing te doen en ingrypings te identifiseer; en
  • Die nasionale en provinsiale regerings sal steeds saam met munisipaliteite wark om die waterkrisis doetreffend te hanteer.

Malusi Gigaba het verlede maand in sy hoedanigheid as minister van finansies aangekondig R6 miljard is vir die 2018- ’19-boekjaar vir verskeie kwessies soos die droogte opsy gesit.

Mkhize sê maatreëls word tans afgehandel om te verseker versoeke word vir finansiering oorweeg soos dit van provinsies ontvang word.

Bron: Netwerk24