Grondeis-plase kán suksesvol wees - Agri SAAgri SA

Grondeis-plase kán suksesvol wees

Grondeis

Op die plaas De Paarl naby Lichtenburg in Noordwes lyk dit of die swart begunstigdes en hul wit plaasbestuurder besig is om ’n suksesverhaal te skryf, berig Susan Cilliers. Dis Julie in Noordwes. So ver as wat die oog kan sien, lê die vaal vlaktes uitgestrek. Dis mielie- en sonneblomwêreld, maar in die middel van die winter lyk dit of alles tot niet is. Nou is egter juis die tyd wanneer die vrug van die aarde gestroop word. Staan jy in ’n sonneblomland soos hier op De Paarl, hoor jy die droë stele voor die monsterbek van die stroper wegkraak. Iewers in die binnegoed van dié wondermasjien word die kosbare pitte uit die droë koppe gehaal. En asof die masjien die lewe skenk, word dit in ’n swart stroom uit die stroper se pyp in ’n trekkerwa gestort. Clifford Ngesman, assistentbestuurder op die plaas, staan regop en trots terwyl hy die proses bekyk. Hartseer is daar ook, want Ngesman wonder hardop of sy oupa Elias en die ander gesinne – wat dié grond in 1948 onder dwang van die apartheidsregering moes verlaat – vandag weet dat hul nasate terug is. Ngesman sê hy het ná die grondeis in 1996 al moed opgegee dat dit ooit gaan slaag. Toe kry hy in 2006 ’n oproep van die departement van grondhervorming en word meegedeel dat die grond aan die gesinne teruggegee gaan word. Die regering het R39,8 miljoen bestee om die grond te koop en ’n verdere R14,5 miljoen om die begunstigdes ná die oordrag van die grond te help om op hul voete te kom. Altesame 4 500 ha is aan die begunstigdes teruggegee. Noordwes se premier, Supra Mahumapelo, het in Junie namens die provinsiale regering plaasimplemente ter waarde van meer as R6 miljoen aan De Paarl oorhandig.

De Paarl se begunstigdes mik om binne die volgende vyf jaar die hele plaas self te bewerk. Behalwe vir die deel waar die vee wei, boer hulle nou op altesame 100 ha met mielies en sonneblomme. Hulle wil dit in die komende seisoen verdubbel. Ngesman en die ander gesinne besef egter hulle het nie nou genoeg geld, kapasiteit of kundigheid om die hele plaas te bewerk nie. “Ons moet bereid wees om te leer, geduldig en nederig wees, en kritiek aanvaar.” Lekabe sê een van die belangrikste eerste stappe wat hulle gedoen hetom te werk aan hul doelwit om eindelik suksesvol kommersieel te boer, was om Rudi Lourens met die hand uit te soek. Lourens het grootgeword op ’n plaas in die Lichtenburg-omgewing en werk al 20 jaar as plaasbestuurder. De Paarl se begunstigdes het hom leer ken terwyl hy gewerk het vir een van die boere wat vroeër grond by hulle gehuur het. “Ons het hom nie net vir sy vaardighede gekies nie, maar ook omdat hy so goed met mense werk,” sê Lekabe. Op De Paarl is die potensiaal vir sukses duidelik: Hier is positiewe mentorskap, hulle het ’n titelakte, bou vennootskappe en het tot dusver goeie ondersteuning van die regering gekry.

Klik hier om meer te lees.