Nuwe grondplan kan werk - mits staat hande vat, sê Agri SAAgri SA

Nuwe grondplan kan werk

Nuwe grondplan kan werk – mits staat hande vat, sê Agri SA

‘n Boer maak ‘n plan, en Agri SA glo hy het een vir grondhervorming as die regering en die private sektor saam hande kan vat.

Werk dit, sal dit help om 10 000 swart kommersiële boere te vestig, terselfdertyd werkloosheid verlig en toegang tot kos in landelike gebiede verbeter, sê Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA.

Dié plan kom ná verskeie voorstelle vir regverdiger grondbesit, onder meer ‘n voorstel dat plase op ‘n 50-50-grondslag tussen boere en werkers verdeel word.

Dit kom ook te midde van die grondwetlike hersieningskommissie se landwye sittings oor onteiening sonder vergoeding.

Agri SA stel ‘n ontwikkelingsfonds van R10 miljard voor waartoe die regering 25% bydra en private beleggers 75%.

Die fonds sal kommersieel bestuur word, maar daarop gemik wees om ontwikkelingskwessies op te los.

Van Zyl sê daar was reeds heelwat gesprekke met beleggers “wat bereid is om in te klim”.

Dit sluit in die Wêreldbank, die Internasionale Finansieringskorporasie, wat lid is van die Wêreldbank-groep, die African Development Bank en verskeie banke in Suid-Afrika.

Die plan word binnekort aan die regering voorgelê/

In 2017 het Agri SA, se lede en vennote R331 miljoen aan transformasie bestee, en altesaam 108 307 nuwe boere het uit dié programme voordeel getrek.

“Hulle het almal bykomende finansiering nodig. Daar is ook baie boere wat vennootskappe met hul plaaswerkers wil aangaan om bykomende projekte te doen. Hulle het ‘n vorm van gesubsidieerde finansiering nodig.

“Ons wil die ontwikkelingsfonds op die been bring, soos die ou landboukredietraad.”

As die regering inkoop, is daar ‘n goeie kans op die sukses daarvan. “Maar dit kan ook iemand anders of ‘n instelling wees wat bereid sal wees om ‘n toekenning te doen van R2,5 miljard.”

Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, sê hy dra nog nie kennis van die fonds nie.

“As ons egter nie ‘n beduidende vennootskap met die regering kan bou om ontwikkeling in dié sektor aan te help nie, gaan die vordering beperk wees.”

Van Zyl sê volgens Agri SA se beskouing is die stadige pas van grondhervorming die gevolg van ‘n mislukking van implementering, eerder as ‘n mislukking van die wetlike raamwerk.

Die plan, wat volgens Agri SA tot ‘n miljoen werksgeleenthede kan skep, is Woensdag tydens ‘n beraad van die FW de Klerk-Stigting in Johannesburg bespreek.

De Klerk het die verrigtinge geopen en kommerwekkende statistieke oor landbou verskaf:

  • Net 3% van Suid-Afrikaanse boere produseer 95% van die land se kos.
  • Die gemiddelde ouderdom van boere is nou bo 60.
  • Sedert 1994 het die getal kommersiële plase met meer as die helfte geval tot minder as 35 000.
  • 20 000 plase is nou te koop, dubbel soveel as in 2015.
  • Boere skuld banke R170 miljard.
  • Baie boere verlaat die land of wil dit verlaat oor die onsekerheid oor grondhervorming en plaasveiligheid.

Van Zyl sê Agri SA sal voortgaan om rolspelers te nader en transformasiefinansiering as die volhoubare oplossing te beding.

 

Bron: Netwerk24