Rooivleis uitgelig tydens diensleweringsprogram

rooivleis

Die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, Senzeni Zokwana, het onlangs ’n diensleweringsprogram in Pretoria aangebied.

 

Buiten die minister se voorlegging, het Mooketsi Ramasodi, waarnemende adjunk-direkteur van die departement, Tshokolo Nchocho van die Landbank, Agri SA, die African Farmer’s Association of South Africa (Afasa), TLU SA, die National African Farmers’ Union (Nafu) en Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die nasionale RPO, ook voorleggings gemaak.

 

Schutte het die department bedank vir die samewerking en ondersteuning aan die rooivleisbedryf met die Nasionale Dieregesondheidsforum, die veterinêre strategie, die bek-en-klouseervrye sone, die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum, die vee-identifikasie en naspeurbaarheidstelsels, die ad valorum-tarief op rooivleis, invoerpermitte vir die invoer van vee uit buurlande, die uitvoerprotokol met China en finansiële bydraes tot produsentehandleidings.

 

Hy het daarop gewys dat die vraag na Suid-Afrikaanse rooivleis op nasionale en internasionale vlak groei. Die bedryf kan ’n groot rol speel om die bruto binnelandse produk (BBP) te laat groei, werkgeleenthede te skep en ondernemings te ontwikkel. Dit is uiters belangrik dat die bek-en-klouseervrye sone beskerm word.

 

Die opkomende sektor speel ’n groot rol in die voorsieningsketting, maar dit moet verder ontwikkel word. Tans besit 1,2 miljoen huishoudings vee en dit speel ’n belangrike rol in voedsel- en inkomstesekerheid, het Schutte gesê.

 

Bron: AgriOrbit