Siek hoenders ’n terugslag

volstruisbedryf
Nog ’n terugslag het die volstruisbedryf getref ná die onlangse uitbraak van voëlgriep op plase in Mpumalanga deurdat dit tot ’n verbod op die uitvoer van vars volstruisvleis na Europa gelei het Gaar volstruisvleis, of vleis wat met hitte behandel is, mag egter nog uitgevoer word. Dié verbod volg skaars twee jaar nadat die vorige verbod op die uitvoer van vars volstruisvleis na die lande in die Europese Unie (EU) opgehef is. Die hoogs patogeniese H5N8-virus is op hoenderplase buite Villiers en Standerton aangetref, en vroeër die week op nóg twee kommersiële lêhen-plase in onderskeidelik Gauteng en Mpumalanga Die nuwe uitbraak en daaropvolgende verbod op rou uitvoere is iets wat die bedryf weer opnuut knou, glo rolspelers. “ ’n Groot deel van die mark verkies vars vleis bo die gaar produk, en waar vars vleis beskikbaar is, beperk dit in ’n mate die gebruik van gaar vleis,” verduidelik Charl du Plessis, van Klein Karoo Internasionaal (KKI). Die KKI is een van die grootste uitvoerders van rou en gaar volstruisvleis na die buiteland. Volgens Du Plessis het KKI se verkope van gaar vleis die afgelope twee jaar sedert die uitvoer van vars vleis hervat is, met bykans twee derdes afgeneem. “Die verbod op die uitvoer van vars vleis lê die ganse bedryf aan bande, want nou is ons opnuut afhanklik van die uitvoer van gaar vleis waarvoor die mark getaan het.” Die verbod is opgelê ooreenkomstig die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) en die EU se reëls vir handel indien ’n hoogs patogeniese virus in ’n land geïsoleer word. Die verbod sal geld totdat die land weer vry van die virus verklaar kan word. Onaangename herinneringe. Die uitbreek van die H5N8-virus herroep onaangename herinneringe van donker dae in 2011 toe voëlgriep in die Oudtshoorn-omgewing in die Klein-Karoo uitgebreek het. Die lae patogeniese H5N2-virus is in April van daardie jaar op ’n plaas daar aangetref. Dié uitbraak het die bedryf vier jaar lank op sy knieë gehou omdat geen rou vleis uitgevoer kon word nie. In daardie stadium was rou volstruisvleis die stu­krag van die volstruisbedryf se fenomenale sukses. In die proses is etlike duisende volstruise wat positief vir die H5N2-virus getoets het, summier van kant gemaak om verspreiding van die virus te voorkom. Dié ramp het die KKI genoop om ’n alternatief vir die uitvoer van vars vleis te vind.“Die inkrimping van die bedryf het gelei tot ’n oplewing in die vraag na volstruisleer en -vere, wat mettertyd die verlies aan inkomste uit vleis kon aanvul,” sê Du Plessis.
Klik hier om meer te lees.