Sosiale Media – Die Onsigbare Wapen - Agri SAAgri SA

Sosiale Media – Die Onsigbare Wapen

Wat het Donald Trump, Black Monday, Black Lives Matter, Bell Pottinger en die Egiptiese opstand op Tahrir-plein in gemeen? Sosiale media het die aard van hul veldtogte verander.

‘n Paar vinnige, interessante feite:

  • Facebook en Google is verantwoordelik vir ongeveer 40% van Amerika se digitale inhoudsverbruik; • In ‘n groter mate as enige ander medium, dien sosiale media as ‘n meganisme om aandag op iets te vestig, om dit dan te manipuleer en te misbruik. Dit het die politieke spelreëls vir ewig verander. Valse beriggewing en slim kuberkrakery (hacking) en internet-veldtogte het ‘n geweldige impak waarmee daar rekening gehou moet word;
  • Die nuwe aandag-ekonomie is ‘n sleutelkonsep; inligting en aanlyninsette kan mense se aandag vir ure lank aangryp. Hierdie tendens dui op ‘n soort verslawing;
  • Koppelvlak- en toep-ontwerpers en sosiale mediamaatskappye het duisende kundiges in diens wat verseker dat mense gedurig na hierdie platforms terugkeer. Volwasse Amerikaners wat Facebook, Instagram en WhatsApp gebruik, bestee ongeveer 20 uur per maand op hierdie drie dienste. In totaal raak Amerikaners tot 2 600 keer per dag aan hul slimfone.

Voorts kom die toenemende gebruik van valse beriggewing om die diskoers te beïnvloed en ‘n nuwe norm vir inligtinggebruikers te skep, in ons daaglike interaksie voor. Tydens die 2016- Amerikaanse verkiesing het sogenaamde fake news die hoofstroom-media engevestigde joernalistieke vernuf oorskadu. In ‘n sekere opsig ding baie joernaliste met hierdie misleidende veldtogte mee. Kom ons bring dit nader na die huis: Op 30 Oktober, tydens die Black Monday-veldtog, het ek gesien hoe die media, burgerlike samelewing en voorspraakgroepe hierdie dag ervaar en hoe sosiale media ‘n groot rol speel in die manier waarop gesprekke ontvou.

Alles het begin met ‘n video wat deur Chris Loubser vir sy vermoorde vriend, Joubert Conradie, gemaak is. Conradie is op ‘n plaas in die Wes-Kaap vermoor. Chris het gevra dat ons alle slagoffers van plaasgeweld herdenk deur op daardie spesifieke Maandag swart te dra – en so is die veldtog gevorm. Daar was geen spesifieke organiseerders nie en die inisiatief het organies oor Suid-Afrika heen ontwikkel. Namate die gebeure op Maandag ontvou het, is dit voorgehou as ‘n rasgedrewe veldtog wat die res van Suid-Afrika uitgesluit het. Maar pleks daarvan om misdaad en geweld te veroordeel, het sommige Twitter-aktiviste, joernaliste en politici verkies om “rassisme“ en “wit heerskappy“, eerder as “moord“, te skree.

Die oorspronklike bedoeling van Black Monday was suiwer, maar boodskappe daaroor het binnekort ontaard in fopnuus wat om ou apartheidsvlae, teenmaatreëls vir die sogenaamde “doodskis-voorval“ en kulturele meerderwaardigheid gewentel het. Die regering se reaksie is duidelik beïnvloed deur dié vlaag valse beriggewing wat die mediaplatforms getref het. Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, het ‘n verklaring uitgereik waarin hy nie net die vertoon van die ou vlag nie, maar ook die kwansuise verbranding van die nuwe een (wat glad nie gebeur het nie), veroordeel het. Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van kommunikasie, het aan Jacaranda FM gesê dat die regering vryheid van spraak, asook die reg om protes aan te teken, respekteer, maar dat dit op ‘n verantwoordelike wyse moet geskied.

“Daar was beeldmateriaal van mense wat vlae verbrand en ou vlae vertoon en beledigende aanmerkings maak,” het sy gesê. Die ontstellendste was die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se onderhoud met die SABC: “Die verbranding van die vlag is wat my die kwaadste gemaak het. My siening is dat ons hier mense het wat rasse-verdeeldheid aanhits. Hier is mense wat geen benul het van wat oorlog aan ‘n land kan doen nie.” In talle onderhoude moes ek dinge só bestuur dat daar gefokus word op die misdaadprobleem wat ons in die gesig staar om te verhoed dat daar groter rasse-verdeeldheid geskep word. My ervaring hier was dat valse beriggewing die hoofstroomnuus oorskadu het en ons dit moes bestuur op maniere wat ons nie kon voorsien nie.

Iets wat ek baie interessant gevind het, was die EFF se reaksie op Black Monday en hoe sekere segmente van die samelewing op mnr Malema se stellings gereageer het. Ons het gesien hoe daar op sosiale media – voor ons oë – diep verdeeldheid geskep kan word. Dit kan gemoedere laat kook, gemeenskappe polariseer en ‘n omgewing skep vir fisiese konflik. Dít is ‘n realiteit in die tye waarin ons leef en ons moet die boodskappe en momentum van hierdie inisiatiewe bestuur. Ons moet doelgerig en slim met die gebruik van sosiale mediaplatforms omgaan – om te mobiliseer en te verenig eerder as om verdeeldheid en onmin te saai. Die ander kwessie waarna ons altyd moet kyk is of ons uitgelok word – en ons moet verder kyk as bloot die emosionele reaksie. Ons moet verseker dat ons ‘n strategie het wat ons boere – en alle Suid-Afrikaners – in die langtermyn sal bevoordeel.

Dan Kriek

Lees meer in die Desember Agri Tydskrif.